Die aantal straatslapers wat hul intrek onder die afdakke en stoorruimtes tussen die Worcester-stasie en die Laerskool Wynland geneem het, word glo al meer, met soveel as 15 tot 20 mense wat reeds daar “woon”.
Die afgelope paar weke het die situasie egter versleg, met twee mans wat glo deur van die straatslapers aangeval is.
Die laerskool en inwoners, wat bekommerd is oor veiligheid, probeer lank reeds om die straatslapers te laat verwyder, maar sonder sukses.
Die skool het vantevore onder geknipte drade, die diefstal van krane en waterpype, asook kragbokse waarvan die drade geknip is, deurgeloop. Die polisie het glo ook op ‘n wapen afgekom toe die straatslapers deursoek is.
Volgens Rowan Snygans, adjunkhoof van die skool, is een van hul werknemers onlangs (Vrydag 7 November) deur ‘n groep van die mense só erg aangerand dat hy vir ‘n week lank nie kon kom werk nie. Dit het glo ná ‘n atletiekbyeenkoms gebeur en die straatslapers as motorwagte wou optree. Die werker was glo op pad huis toe toe hy aangeval is.
Werkers van die tuindienste, wat die skool gebruik, is onder die klippe gesteek nadat hulle op die skoolterrein gras gesny en glo “te naby” aan die afdakke lawaai het.
Volgens Snygans is hulle maande lank reeds in korrespondensie met Transnet, aan wie die geboue en afdakke behoort, om die probleem opgelos te kry. Hulle is bekommerd oor die veiligheidsrisiko wat dié groep mense inhou.
Die omstandighede waarin die straatslapers woon, is haglik, met vullis en ontlasting wat by die afdakke ophoop.
Standard het vroeër berig oor sakelui in die middedorp wat kla oor straatslapers voor hul ondernemings se deure en voetgangers wat sê dat hulle onveilig voel.
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) kan slegs teen die straatslapers optree wanneer hulle op munisipale grond is.
“Ons het uitgereik na die eienaars van die eiendomme, soos Transnet, om dit te oorweeg om ‘n formele uitsettingsproses te begin. Ons het hulle ondersteun om profiele op te trek van die besetters en ‘n opvolgvergadering sal gehou word om hul vordering te bespreek,” het John Bulani, ‘n munisipale woordvoerder, op ‘n vroeëre navraag gesê.
Een van die probleme is wanneer straatslapers op een plek verwyder word, hulle slegs na ‘n volgende plek aanskuif.
Straatslapers is ook ‘n probleem in Rawsonville. In van die gevalle blyk dit dat die mense wat op straat slaap, wel ‘n heenkome het, maar om verskeie redes verkies om nie huis toe te gaan nie.
Die BVM het aangedui dat hy op soek is na ‘n oplossing vir die probleem. Die BVM is in gesprek met ‘n strategiese vennoot sodat oornagverblyf vir haweloses aangebied kan word. Hulle is ook in gesprek met die Swartland-munisipaliteit vir bedryfsondersteuning. Dié ooreenkomste sal na verwagting aan die einde van die maand gefinaliseer wees.
Standard het navrae aan Transnet gestuur, maar het teen die tyd van publikasie nog nie terugvoer ontvang nie.


