Die Rebirth-dansgeselskap in Worcester hou op 15 Oktober hul tweede Battle of the Arts-kompetisie.
Verskeie talentvolle jeugdiges van Worcester sal dan die verhoog betree om hul talent ten toon te stel. Vir die afgelope vyf maande het die Rebirth-dansgeselskap aan die einde van elke maand ’n uitreiksessie vir die jeug gehou in die aanloop na hierdie kompetisie. Rebirth het hierdie kompetisie en maandelikse funksie begin om die jeug van Worcester ’n platform te gee om hul talente te deel en te slyp.
“Elke einde van die maand het ons Worcester Live with the youth in verskeie buurte van Worcester gehou. Ons het letterlik ’n vlakkie gekies en ’n DJ het sy goed opgestel en enigeen was welkom om by ons aan te sluit om te sing of dans of rymklets,” verduidelik Nathaniel Jacobs, een van die stigters van Rebirth.
Volgens Jacobs het baie talentvolle jeugdiges na afloop van Worcester live with the youth vir die Batte of the Arts-kompetisie ingeskryf.
“Dit is die jeug wat oor die afgelope vyf maande saam met ons was by die Worcester live with the youth-uitreikprogram. Daar gaan natuurlik op die aand ’n lekker verskeidenheid van optredes wees. En wat hierdie kompetisie ook baie opwindend maak, is die feit dat die gehoor op die ou einde besluit wie die wenners is. Daar sal beoordelaars wees, maar die laaste besluit sal dié van die gehoor wees.”
Jacobs verduidelik ook dat enigeen wat aan hierdie kompetisie wil deelneem meer as welkom is.
“Die inskrywings sal nog oop wees tot 12 Oktober. Enigeen wat sy talent met ons wil kom deel, is meer as welkom. Enigiets van dans tot rymklets, poësie of drama is welkom.”
Daar gaan ook die aand ’n reeks gaskunstenaars optree.
“Rebirth-dansgeselskap gaan ook optree. Verlede jaar se wenner van Battle of the Arts, Peteweill Pekeur, gaan ook daar wees, asook Reggie B, Erica en Bradley wat toneel gaan speel, en DJ Juicy.”
- Die geleentheid sal by die VGK Worcester-Oos-kerksaal plaasvind. Deure open om 15:00 en kaartjies kos R30. Die inskrywingsfooi vir kunstenaars is ook R30.





