Nadia Stander het ’n netwerk in Worcester geskep waar mense hul ondernemings en dienste aan mekaar kan bekendstel.
Tydens die nasionale inperking en veral die sosiale distansiëring het sy met hierdie idee vorendag gekom om die netwerk Friends of Worcester te begin.
“Voor ek vyf jaar gelede Worcester toe verhuis het, het ek in George gewoon. Daar het ons ’n Friends of George gehad. Ek het dit goedgedink om een hier te begin, want aan die begin van die inperking het almal allerhande produkte en dienste op sosiale media gesoek,” verduidelik Stander.
Sy het toe op sosiale media begin aankondig dat sy ’n netwerkgeleentheid gaan aanbied.
“Die netwerkgeleentheid word elke Donderdagoggend gehou. Elke week het ons ’n ander gasheer en dit word in verskeie venues in en om die dorp gehou. Elke laaste week van die maand hou ons die geleentheid op ’n Woensdagaand. Ons noem die netwerkgeleentheid ‘Buzz over Coffee’.”
By hierdie geleenthede kry besigheidseienaars die geleentheid om hulself en hul besigheid aan die res van die groep voor te stel.
“Die res van die groep stel dan ook hulself aan die nuwe gas voor. Enigiemand met enige soort besigheid kan die netwerksessies bywoon. En as ’n eienaar nie self kan kom nie, kan hulle ook ’n verteenwoordiger stuur. Ons drink koffie en ons gesels en ons bou verhoudings,” verduidelik Daniel Bredenhand, Stander se besigheidsvennoot.
Hy verduidelik ook dat Friends of Worcester ’n Whatsapp-groep het waarby mense wat die netwerkgeleenthede bywoon, kan aansluit.
“As mense dan na ’n spesifieke diens of produk op die groep soek, kan ons dan mense se kontakbesonderhede met hulle deel,” sê Bredenhand.
Hy verduidelik verder dat hulle hierdie konsep verder wil neem.
“Ons wil ’n besigheidsportaal skep vir klein ondernemings in Worcester om hul produkte en besighede aan die wêreld bekend te stel. Ons gaan binnekort ’n webtuiste bekend stel waar hierdie besigheidseie-naars hul produkte kan verkoop.” Die volgende netwerkgeleentheid vind vanoggend (Donderdag 7 April) om 10:00 by The Barn plaas.
V Vir meer inligting oor komende netwerksessies en hoe om aan te sluit, kontak Nadine Stander by 081 366 1841 of deur die Facebook-blad, Friends of Worcester.




