Die eerste Wes-Kaapse Motorwerktuigkunde-skou nog word Saterdag 9 Maart by HTS Drostdy in Worcester gehou.

Credit: SYSTEM

HTS Drostdy in Worcester is besig om sy vere reg te skud vir die eerste Wes-Kaapse Motorwerktuigkunde-skou nog, wat Saterdag 9 Maart by Drostdy gehou word.

HTS Drostdy is die enigste volwaardige tegniese hoërskool in die Boland en hou die skou in samewerking met die Motor Industry Workshop Association (MIWA).

Deon Goch, die MIWA-Wes-Kaap-voorsitter, sê motorwerktuigkundiges is die ideale vertoonvenster vir die motorbedryf om opkomende meganici te lok en om te demonstreer hoe passievol die bedryf is om jong talent in die sektor op te lei en daarheen te lok.

“Ons is ernstig daaroor om toekomstige loopbane in die motor­bedryf te bevorder, en dit is ’n voorreg om met HTS Drostdy aan hierdie geleentheid saam te werk,” sê hy.

Dit sal die vyfde Motorwerktuigkunde-skou wees wat MIWA saam met ander voorste tegniese skole oor die land heen aangebied het. Die skou lok landwyd duisende toeskouers en die organiseerders is seker die Wes-Kaapse skou gaan ewe gewild wees.

’n Hoogtepunt by Saterdag se skou gaan HTS Drostdy se voorste meganiese-tegnologie-leerders (padvervoer) wees wat om die titel as Junior Motor Mech 2024 meeding.

Hier sal twaalf deelnemers aan die eerste ronde deelneem. Nege mededingers sal dan oor die volgende twee rondes uitgeskakel word, waarna die topdrie dit in ’n naelbyt-eindstryd sal uitbaklei.

Benewens die kompetisie sal een van die belangrikste besienswaardighede ’n werksessie wees wat spesiaal op vroue gemik is. Dit sal gefokus wees op kapingsbewustheidswenke, verdedigende-bestuur-tegnieke sowel as ’n paar belangrike wenke soos wat om te doen as jy ’n pap band het of ’n band wat besig is om af te blaas, asook algemene motorinstandhoudingswenke.

Vir die jonger gehoor sal inspirerende praatjies deur vroue in die bedryf aangebied word en baie raad oor loopbane sal vir almal wat belangstel om die motorbedryf as ’n beroep te oorweeg, sal uitgedeel word.

Daar sal ook verskeie interessante en leersame uitstallings van MIWA-werksessies wees wat hul aanbiedings ten toon stel; motoruitstallings van handelaars en uitstallings van plaaslike klubs en motorbedryfverskaffers.

Skougangers sal baie geleenthede kry om aan gelukstrekkings deel te neem en daar sal ’n gerieflike gasvryheidsarena en ’n kinderspeelplek wees.. Diedeure open om 10:00 by HTS Drostdy, Somersetstraat 40, Worcester, en toegang kos R20 per volwassene.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article