Swemmers – jonk en oud – en van sover as Robertson en die Paarl sak eerskomende Saterdag (16 Maart) op Worcester toe, wanneer die Watersprite-swemskool gasheer speel vir sy eerste groot Fun Swem-gala by HTS Drostdy.
Klubs wat aan die Fun Gala gaan deelneem sluit in Watersprite-swemskool, Lane Leaders-swemklub, Grace-swemskool, Crazy Splash-swemskool – almal van Worcester – asook Robbies-swemskool van Robertson en Paarl Aquarius-swemklub.
Swemmers van Lannerhouse in Worcester gaan ook deelneem.
Lucinda Solomons, stigter van en afrigter by Watersprite-swemskool, sê daar is besluit om die formaat van die huidige Fun Gala aan te pas omdat dit (die formaat) oor die jare heen verander het.
Gloria Solomons, ook ’n afrigter by Watersprite, sê swemmers tussen die ouderdomme van agt- en 13-jaar oud gaan deelneem aan die vryslag-, rugslag-, -borsslag en -vlinderslag-resies.
Volgens haar gaan swemmers van sewe-jaar en jonger deelneem aan die noodle-, doggy paddle-, vryslag-, rugslag- en bordjieskop-swemresies.
Sy sê volwasse swemmers gaan deelneem aan die 25m bordjieskop-resies en ‘n 25m vryslag. Vir die bordjieskop-resies gaan volwassenes toegelaat word om met paddavoete te swem.
Ook swemmers van sewe-jaar en jonger gaan toegelaat word om met paddavoete te swem, terwyl diegene in die agt- tot 13-jaar ouderdomsgroep daarsonder gaan swem.
Al die items wat gaan plaasvind gaan oor 25m wees.
Lucinda sê elke deelnemer gaan ‘n deelnemer-sertifikaat ontvang, terwyl swemmers wat die eerste plek in die uitdunne in hul item behaal medaljes gaan ontvang.
Sy sê die een wat in sy of haar ouderdomsgroep die meeste eerste plekke behaal, gaan ‘n trofee ontvang.
Volgens Lucinda is die plan om die Fun Gala ‘n jaarlikse instelling te maak.
Die Gala begin Saterdag-oggend tien-uur, maar swemmers moet reeds teen 09:30 aanmeld by die swembad by HTS Drostdy in Worcester.
Kaartjies kan op die dag van die Gala teen R5 by die hek gekoop word. Navrae oor Saterdag se Gala kan gerig word aan Lucinda by 076 533 0134, Gloria by 072 451 1687 of Enid Versfeld by by 073 227 7642.


