By Breedevallei Vereniging vir Persone met Gestremdhede (BVAPD), in die kombuis, vind jy ons afdeling, Knippie Liefde. Dit is hier waar bestanddele omgetower word tot die lekkerste, mooiste, eetbare rangskikkings. Hier eet jy nie net met jou mond nie, maar met jou oë ook. Die bestuurder van die afdeling, Elize Avenant, en vyf jongmense staan reg om jou te help met enige kosverwante uitdagings.

Ons het onlangs Knippie Koffie aan die publiek bekend gestel – kom loer gerus in by ons “Roll-in-shop” en ondersteun ons met die koop van ’n filterkoffie en ’n kolwyntjie. Heerlike beskuit en koekies is ook te koop. Daar is niks so lekker as om die vars koffie- reuk in te asem vroeg in die oggend nie!

By Knippie Liefde word vyf jongmense met gestremdhede, almal tussen 18 en 35 jaar die geleentheid gebied om vaardighede in die gasvryheidsbedryf te leer. Hierdie jongmense word blootgestel aan alle vlakke van “werk in ’n kombuis” – van skoonmaak tot kosvoorbereiding tot gaarmaak en opdiening.

Hierdeur poog ons om hulle die geleentheid te bied om lewensvaardighede te leer, wat tot beter besluitneming en meer onafhanklike funksionering kan lei. Dit bemagtig hulle om hul lewenstyl en selfwaarde asook hul huislike omstandighede te verbeter,” sê Elize Avenant.

Met die hulp van die maatskaplike werker vir werk en indiensneming, Anelda Rabie, word emosionele ondersteuning, psigo-sosiale ondersteuning en beroepsopleiding gebied. Hierdeur word begunstigdes toegerus met vaardighede wat aanleiding kan gee tot beter integrasie en inskakeling in die gemeenskap en om sodoende in die ope arbeidsmark aansoek te doen vir werk.

Knippie Liefde bied ’n wye verskeidenheid van dienste aan. Hulle doen spyseniering vir troues en / of spesiale geleenthede, smulborde en spesiale gebak. Lede van die publiek kan daagliks etes van ’n spyskaart af, wat heelwat verskeidenheid bied, bestel. Hierdie spyskaart bevat watertand-lekker etes wat enige maag sal vul en enige huisvrou se sak sal pas.

Indien jy op Knippie Liefde se verspreidingslys vir hierdie spyskaart wil inskakel, stuur gerus e-pos na hospitality@bvapd.org.za en versoek dat u die spyskaart ontvang.

Knippie Liefde hanteer ook die verhuring van lokale by die BVAPD. Hierdie lokale word grootliks gebruik vir konferensie- en opleidingsgeleenthede en in dieselfde asem kan hulle ook die spyseniering vir die geleentheid behartig– twee vlieë met een klap!

Knippie Liefde doen ook moeite om gereeld groot projekte aan te pak. Van die projekte sluit in Valentynsdag-boksies, Moedersdag- en Vadersdag-boksies en ’n koekiebakprojek. Hulle is so veelsydig dat hulle selfs met skole / organisasies wat geldsamelings hou, saamwerk.

Hierdie projek is ook behulpsaam met die spysenieringsbehoeftes van al die BVAPD se interne maatskaplikewerkprojekte en –programme. Hulle verskaf ook daagliks gebalanseerde maaltye aan die Rise and Shine- spesiale sorgsentrum en die Rawsonville- spesiale sorgsentrum.

Knippie Liefde is gewis ’n groot aanwins vir die organisasie sowel as die gemeenskap.

Hulle bied billike pryse en vriendelike hulp en diens, alles deel van die proses om jeugdiges met gestremdhede te bemagtig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article