Paarl Post / Standard Breederivier Gazette betree ‘n nuwe hoofstuk nadat Lise Beyers die tuig as redakteur neergelê en ‘n nuwe pos as nasionale digitale nuusredakteur van die Novus Media-groep aanvaar het.
Maryke Swart, oorspronklik van die Paarl, sit nou in die redakteurstoel.
Sy was die vorige redakteur van die Weslander in die Weskus en WeskusNuus in Atlantis en bly steeds aan as redakteur van Swartland Gazette in Malmesbury.
Lise was vir amper 20 jaar deel van Paarl Post, een van Suid-Afrika se grootste emeenskapskoerante, waar sy die afgelope 13 jaar as redakteur gewerk het.
Sy het haar loopbaan in 1987 by Beeld in Johannesburg as persfotograaf begin waarna sy as fotoredakteur van Vrye Weekblad aangestel is.
Daarna het sy by Rapport as ‘n vryskut aangesluit voordat sy na Pietermaritzburg verhuis en as korrespondent uit KwaZulu-Natal vir Beeld gewerk het.
Sy het in 2002 na die Paarl, haar grootword dorp, verhuis en by Paarl Post as joernalis aangesluit het. Sy is in 2012 tot redakteur bevorder.
Lise het in ‘n joernalistieke huis grootgeword met haar pa, Fritz Joubert, wat redakteur van Sarie was, en haar ma, Maureen, redakteur van die destydse tydskrif Wynboer.
Lise is dus van ‘n jong ouderdom af aan die nuuslandskap blootgestel, wat die saadjie vir haar skuif van fotografie na joernalistiek geplant het.
Nóg ‘n faktor wat tot hierdie skuif bygedra het, was toe sy die destydse Apartheid-onluste eerstehands in Johannesburg ervaar het.
“Ek het een aand op pad terug kantoor toe van Ellispark af, waar ek foto’s van ‘n Curriebeker-wedstryd geneem het, kort nadat ek by die stadion weg is, ‘n harde ontploffing gehoor, gevolg deur stilte.
“Metaalstukke het begin neerdaal, en ek het by ‘n nabygeleë bushalte gaan skuil.
“Die ontploffing het van die ander kant van die stadion af gekom. Ek het besef dit was ‘n bom en het daarheen gehardloop. Twee mans is dood toe hul motor deur ‘n motorbom vernietig is. Ek het die gebeure van naby ervaar en die volgende dag op eie inisiatief my eerste artikel daaroor geskryf.”
Dít was Lise se eerste skryfstuk en van daar af het haar loopbaan in joernalistiek begin.
In haar amper vier dekades in die medialandskap – en twee daarvan by Paarl Post – het sy “heerlike stories en talentvolle mense” binne die Drakenstein ontmoet en wat sy nog lank sal onthou.
Sy sal ook die tragedie van die Paarl Print-brand in 2009, waarin 13 mense oorlede is, onthou.
“Ek was die eerste joernalis op die toneel en het vier dae lank gewerk om die oorledenes se families op te spoor.”
Paarl Post bedank Lise vir 20 jaar se toewyding en herinneringe.
• Maryke is op haar beurt ‘n Paarliet in murg en been en het aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer voordat sy haar BA in mediastudies aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein voltooi het.
Daarna het sy by ‘n plaaslike koerant in Bethlehem, die destydse Vrystaat (vandag VrystaatKroon) begin werk, en ‘n paar maande later die geleentheid gekry om vir die dagblad Volksblad as sy Oos-Vrystaatse verslaggewer te werk.
Maryke het in 2013 na haar tuisdorp teruggekeer, waar sy as gemeenskapsjoernalis by Paarl Post begin werk en toe oorgeskuif het na DistriksPos voordat sy ‘n pos as nuusredakteur by die Swartland Gazette aanvaar het.
Sy het haar nagraadse diploma in sakebestuur in 2020 voltooi en is in 2022 as redakteur van Weslander, WeskusNuus en die Swartland Gazette aangestel.
“Om terug te wees in die Paarl, my tuisdorp, en om in die redakteurstoel in te skuif van ‘n koerant waarmee ek as kind grootgeword het, is ‘n besonderse voorreg.
“Lise laat groot skoene agter om te vul, maar dit voel ook soos ‘n volle- sirkel-oomblik om terug te keer na die koerant waar ek werklik my passie vir gemeenskapsjoernalistiek ontdek het,” het Maryke gesê.
Daarmee saam sien sy ook uit om die gemeenskap van Worcester beter te leer ken.






