’n Man van Bonnievale het ’n groot verlies gely nadat by sy vragmotor ingebreek en dit aan die brand gesteek is.
Louis le Roux van Bonnievale se vragmotor was op sy vriend se plaas in Bonnievale geparkeer toe sy vriend hom in die middernagtelike ure bel om te sê die vragmotor is aan die brand.
“Agter in die vragmotor was koekies wat ek koop en dan in dierevoer verwerk en weer aan plaaslike boere verkoop.
“Die vragmotor is oopgebreek.
“My vriend, op wie se plaas die vragmotor geparkeer was, het my Sondag omstreeks 02:50 gebel want sy vrou het wakker geword van die geknetter van die vlamme van die voertuig wat brand,” verduidelik Le Roux.
Die bestuurder van een van Robertson- risikobestuur se bakkies het toe vlamme gesien en by die plaas ingery en die brandweer ontbied.
“Dit is ’n groot verlies vir my, want ek het nie versekering op die goed nie. Ek wil graag hê die skuldiges moet aan die pen ry. Daar was tussen 16 en 20 ton koekies in die vragmotor. Ons het ook al vantevore probleme gehad met mense wat die voertuig oopbreek om die koekies te steel.
“Die geskatte waarde van die koekies wat in die vragmotor was, is sowat R100 000. Die voertuig se waarde is omtrent R500 000 en die sleepwa se waarde is omtrent R200 000.”
Le Roux het die saak by die polisie aangemeld en hoop die verdagtes sal spoedig vasgetrek word.
“Ek verstaan net nie hoekom hulle dit aan die brand gesteek het nie. Daar is al vantevore by die trok ingebreek, maar nog nooit het iemand soveel skade aangerig nie.”
Hierdie is ’n groot verlies vir Le Roux, wat verlede jaar een van sy vragmotors in ’n ongeluk verloor het.
“Ek het ’n vervoermaatskappy. Maar weens die ongeluk en ander probleme met die ander vragmotors, was die voer my enigste inkomste sedert verlede jaar. Alles raak agterstallig.
“Daar is iemand in die gemeenskap wat my wil help en hy bied ’n R5 000-beloning aan vir inligting wat sal lei tot die aankeer en vervolging van die verdagtes.”. Enigeen met inligting kan die Bonnievale-polisiekantoor by 023 616 8060 bel.




