Kinders en personeel van die Julie Naudé Crèche is trots op die kleuterskool wat aanstaande maand sy 80ste bestaansjaar vier.Foto: Enrico Claassen


Een van die bekendste en oudste kleuterskole in Worcester, die Julie Naudé Crèche in Le Sueurstraat, vier aanstaande maand sy 80ste bestaansjaar.

Die kleuterskool beplan om dié mylpaal in sy bestaan met ’n rits prettige aktiwiteite te vier waaraan die breër Worcester-gemeenskap asook diegene wat bande met die kleuterskool het, kan deelneem.

Michelle Jonkers, wat die afgelope 15 jaar aan die hoof van die kleuterskool staan, sê alhoewel die kleuterskool op 11 Junie amptelik 80 word, gaan die feesvieringe op 16 Junie (Jeugdag) begin en tot 18 Junie duur.

“Dit is regtig vir my ’n voorreg om in hierdie era te wees waar ons die 80ste bestaansjaar van die crèche vier,” sê Jonkers.

Volgens haar het die betrokke crèche sy ontstaan gehad toe ’n vrou, Julie Naudé, sowat 80 jaar gelede die plaaslike munisipaliteit genader het om ’n kleuterskool vir minderbevoorregte kinders in die bruin gemeenskap in Worcester op die been te bring, aangesien daar ’n behoefte daaraan in die gemeenskap was.

’n Entoesiastiese Jonkers vertel aan Standard dit was Naudé se droom om minderbevoorregte kinders ’n veilige omgewing te bied.

Jonkers sê vir die afgelope 80 jaar, Maandag tot Vrydag, maak die kleuterskool soggens sewe-uur sy deure vir die kindertjies oop en dit sluit om 17:00.

Volgens haar word kinders by die kleuterskool op ’n daaglikse basis voorsien van etes, waaronder ontbyt en middag-ete.

By die Julie Naudé Crèche word na kinders tussen die ouderdom van drie maande en vyf jaar oud omgesien.

Jonkers sê wanneer ouers aansoek doen om ’n plek vir hul kinders by die crèche word voorkeur gegee aan diegene wat kindertoelae ontvang en van niks anders as daarvan afhanklik is. Volgens haar word voorkeur ook gegee aan enkelouers.

’n Trotse Jonkers sê die crèche spog tans met sowat 90 kinders en nege personeellede, onder wie haarself, die kok, skoonmaker en ses professionele opvoeders.

Sy sê op 16 Junie om halfnege die oggend kom almal, onder wie die ouers, kinders en die breër gemeenskap – almal geklee in denim en geel – byeen by Boxer Superstores op die hoek van Hoog- en Napierstraat.

Volgens haar gaan onder meer trompoppies en ’n brigade deel vorm van ’n optog tot by die Julie Naudé Crèche.

Sy sê die plaaslike verkeersdepartement is reeds genader om die optog te begelei.

Volgens Jonkers gaan optoggangers op dié dag behoorlik lawaai maak. Sy sê daar gaan geraas en gesing word en blikkies gaan geskud word om geld vir die crèche in te samel.

Volgens Jonkers gaan die feesvieringe by die crèche met musiek en ’n kermis voortgesit word. Daar sal ook verskeie stalletjies wees.

Sy sê die verrigtinge gaan verder ingekleur word met ’n karaoke en verskeie plaaslike gaskunstenaars wat gaan optree.

Die publiek word hartlik hierna uitgenooi.

Jonkers sê dat daar vir die duur van die feesvieringe streng toegangsbeheer by die crèche gaan wees.

Sy sê die betrokke dag se verrigtinge strek tot 18:00.

Volgens Jonkers word die pret op 17 Junie voortgesit met ’n boere-sportdag wat op die perseel van RK Primêre Skool in Parkerstraat gaan plaasvind.

Sy sê selfs babas gaan aan die sport-verrigtinge deelneem. Ouers gaan ook sake onder mekaar uitspook.

Daar kan uitgesien word na aktiwiteite soos onder meer eier-in-die-lepel, lekker-uit-die-bak en sakresies.

Ook hier sal onder meer kos-stalletjies wees.

Toegang kos R5 vir kinders tot 12 jaar en R10 vir volwassenes. Dié dag se verrigtinge begin om 09:00 en sal tot 14:00 duur.

Volgens Jonkers word die feesvieringe op 18 Junie met ’n opelug-diens by die Julie Naudé Crèche afgesluit.

Jonkers sê te midde die feestelikhede wat beplan word, bly ’n geldtekort vir hulle steeds ’n uitdaging, aangesien die crèche van skoolfooie afhanklik is.

Volgens haar ontvang die crèche ’n “minimale bedrag” van die staat.

Sy sê nog ’n uitdaging wat die crèche sowat twee jaar gelede in die gesig gestaar het, was toe booswigte al hul koper-waterpype gesteel het.

Volgens Jonkers het die vervanging van dié pype met plastiekpype en die installering die crèche van sekuriteit-strale duisende rande gekos.

“Ek voel ongelukkig, want dit is ons eie mense wat kom afbreek.”

Volgens Jonkers is die crèche voortdurend op soek na borge omdat dit ’n groot finansiële las van hul skouers sal haal.

Sy sê ten spyte van al die uitdagings, is haar visie om nog klaskamers aan die agterkant van die kleuterskool op te rig.

. Navrae kan aan Jonkers gerig word by 071 870 2657.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article