Die koper van die geskiedkundige eiendom Kleinplasie in Worcester sal diep sakke moet hê om hierdie eiendom weer tot sy reg te laat kom en sy onontginde potensiaal te verwesenlik.
Die aanlynveiling van Kleinplasie het gister (Woensdag 17 September) om 09:00 begin en duur tot vanmiddag (Donderdag 18 September) om 14:30. Diegene wat wou bie, moes teen Maandag 15 September geregistreer het.
Volgens inligting beskikbaar op die afslaers, Claremart, se webwerf, begin die bod op hierdie eiendom van 206 164m² en wat aan die Breedevallei-munisipaliteit behoort, op R9 miljoen.
Die verkoop is onderhewig aan goedkeuring deur die munisipaliteit.
In die beskrywing van die eiendom word Kleinplasie aangebied as die eerste en oudste huis en plaas in die omgewing. Die eiendom sal vervreem word vir die doel van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, sport en ontspanning of vir onderrig.
Die afslaers beskryf die ou landbouskou-sale, wat tans as werkswinkels en stoorplek gebruik word, as in ‘n gemiddelde toestand. Die Oude Kelder-kroeg, wat erfenisstatus het, het dringende instandhoudingswerk nodig. Die Presidensiële Suite het ook erfenisstatus.
Die opsigtershuis is volgens Claremart in ‘n swak toestand en aandag moet gegee word aan die struktuur, elektrisiteit en dak.
Die chalets is ook in ‘n ondergemiddelde toestand met die kantoor en huis wat in ‘n swak toestand is – die dak lek en die mure is onstabiel. Die gebou is vervalle.
Van die vereistes waaraan die koper moet voldoen, is dat geen bome wat erfenisstatus het, van die terrein af verwyder mag word nie.
‘n Serwituut vir die bestaande stormwaterstelsel en die rioolstelsel moet op die koper se rekening geregistreer word.
‘n Reg-van-toegang-serwituut moet vir die aangrensende Worcester-museum geregistreer word – ook vir die koper se rekening.
Al die geboue wat erfenisstatus het, moet deur die koper opgeknap en in stand gehou word.





