Die toekoms van Kleinplasie, die ou landbouskouterrein, is nog onseker nadat die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) die publiek verlede jaar genooi het om voorstelle in te dien.
Die terrein sluit die gewilde Mega Oval-renbaan in waar stock cars een keer per maand honderde toeskouers lok. Worcester Museum is langsaan geleë, maar is nie op ’n deel van dié grond nie. Kleinplasie was eens ’n gewilde bymekaarkomplek waar landbouskoue en ander byeenkomste gehou is. Dit het egter met tyd al meer vervalle geraak.
Die huidige huurder se huurtermyn verstryk op 31 Julie vanjaar.
“Die munisipaliteit moet oor die toekoms van die eiendom besluit, want dit is ’n integrale deel van Worcester. Ten spyte van verskeie telefoniese navrae het ons slegs vier geskrewe voorstelle ontvang,” sê Chad Malgas, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit.
’n Item sal vervolgens aan die raad voorgelê word met die kommentare en voorstelle wat tydens die openbaredeelnameproses ontvang is.
“Die raad sal dan op die geskikte pad vorentoe besluit, wat die aanvra van ontwikkelingsvoorstelle of aansoeke vir die reg van gebruik kan insluit,” sê Malgas.
Kleinplasie, wat voorheen aan die landbougenootskap behoort het, is jare gelede aan die BVM-munisipaliteit oorhandig toe dit in onbruik verval het.
’n Tender is vir die grond uitgereik en die huidige huurder, Orten King, was die enigste wat aansoek gedoen het. ’n Huurtermyn van nege jaar en elf maande is vasgestel.
“Dit was eens die droom om Kleinplasie as die Spier van Worcester te ontwikkel. Aanvanklik was daar baie belangstelling uit die private sektor, maar dit het getaan toe ons slegs ’n huurkontrak van nege jaar en elf maande kon kry.”
Vir ’n tyd lank het die ontwikkeling goed gevaar met ’n bistro, kunsgalery, ’n kinderplaas wat kursusse aangebied het, ekspo’s asook landbou-georiënteerde opleiding.
Die planne het egter die wind van voor gekry. Covid het alle aktiwiteit tot stilstand gebring. Slegs die Mega Oval het met die opheffing van covid-regulasies voortgegaan.
Misdaad is ’n groot probleem met van King se personeel wat deur gewapende mans aangehou is. ’n Vermeende bendelid is onlangs op die terrein doodgeskiet. Diefstal kom gereeld voor.
“Kleinplasie verg buitengewone hoë koste om in stand te hou en dit was nie meer sinvol om dit as sakeonderneming te bedryf nie,” sê King.
Hy glo steeds dat Kleinplasie ’n aanwins vir Worcester kan wees.
“My voorstel sou wees dat die baan aan die Mega Oval-klub gegee word en die historiese ou geboue, wat soveel waarde het, aan die museum oorhandig word om te onderhou. Die munisipaliteit kan die res van die grond vir ligte bedrywe verkoop en sodoende ’n inkomste verkry. Die nuwe ondernemings sal veiligheid op hul persele opknap en die gebied beveilig.”
Suzaan Bredenhann, ’n komiteelid van die Mega Oval-klub, sê hulle is een van die vier wat voorstelle ingedien het.
“Ons sal graag die grond wat ons nou gebruik, by die munisipaliteit huur. Daar is dele wat ons wil uitbrei en ons sal graag die skou wil terugbring.
“Ons wil ook graag motorsport uitbrei en beplan ’n byeenkoms waar internasionale renjaers kan kom deelneem,” sê sy.




