Kinders in die De Doorns-gebied moet in somtyds haglike omstandighede na plekke soek om ’n lafenis teen die hitte te vind.

Credit: SYSTEM

“Die kinders wil swem.”

Dit is die pleidooi wat ouers en bekommerde gemeenskapslede van De Doorns rig terwyl kinders van dié omgewing gereeld in damme en vuil rivierwater na lafenis soek om in die drukkende hitte af te koel.

“Ons vra en smeek al jare vir ’n dorpswembad. Ons kinders verdien sulke ordentlike geriewe. Ons kinders moet in vuil water gaan swem. Dit is onveilig omdat daar nie toesig is nie. Hier het al kinders in die gebied verdrink, maar dit kan verhoed word,” vertel Engel Joyce, ’n inwoner van dié omgewing aan Standard.

Sy sê sy is die afgelope 18 jaar sedert sy hierheen verhuis het bewus van die gemeenskap se behoefte aan ’n dorpswembad.

“Dit klink dalk na iets so eenvoudig en ons benodig soveel meer as dit, maar dit is belangrik. Ons kinders se veiligheid is belangrik. Ons kinders voel reeds afgeskeep en onbelangrik. Ons kinders kry swaar, en iets soos dit kan hulle dalk net weer aanmoedig.”

Nog ’n inwoner van Stofland in De Doorns, Henri Erasmus, vertel aan Standard dat hulle destyds – in 2011 – ’n familielid aan die dood afgestaan het weens die feit dat kinders na alternatiewe plekke gaan soek om af te koel.

“My broerskind se seuntjie was nege jaar oud en het op ’n plaas in die omgewing sonder toesig gaan swem nadat hy van die huis af weggeraak het. Hy is paar uur later in die dam gevind nadat hy net verdwyn het, en ons het ’n week later begrafnis gehou. Ons moet aan ons kinders dink.”

Erasmus voer verder aan dat die naaste swemgeriewe in Worcester is en die vervoerkoste en toegangsgeld is net te hoog vir die gemeenskap en hul kinders.

Chad Malgas, die bestuurder van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (Gop) by die Breedevallei-munisipaliteit, het aan Standard gesê hulle is bewus van die gemeenskap se behoefte aan ’n swembad, maar die proses moet op die regte wyse aangepak word.

“Die raad het ’n begroting van R500 000 vir die interne beplanning en navorsing vir ’n swembad in die omgewing in Mei 2022 goedgekeur. Die proses behels ’n ondersoek na beskikbare grond en hulpbronne en deeglike impakstudies moet gedoen word. Dit sou in die 2023-’24-boekjaar geskied, en intussen is die behoeftelys aangepas,” verduidelik Malgas.

Malgas sê verskeie nuwe raadslede is sedertdien vir die De Doorns- gebied verkies en die Gop is ’n deurlopende en belangrike proses wat gevolg moet word om te verseker dat dit aan die behoeftes in die gemeenskap voldoen.

“Die BVM se mandaat is dat daar in basiese behoeftes voorsien moet word. Ná oorweging en verdere konsultasie is ooreengekom dat ander belangriker behoeftes ongelukkig swaarder as dié van ’n swembad weeg. Die prioriteite is dus aangepas.”

Malgas verduidelik dit beteken nie dat die gemeenskap nou nié ’n swembad gaan kry nie, maar die proses gaan nou verskil en is geskoei op die beskikbaarheid van geld en hulpbronne soos in die kapitale begroting ooreengekom.

“Zwelethemba as voorbeeld het 20 tot 25 jaar vir hul swembad gewag.

“Daar was in daardie stadium konsensus in die gemeenskap oor die noodsaaklikheid vir een. Dit wys weer eens hoe belangrik die Gop-proses is en hoe belangrik dit vir inwoners is om deel daarvan te word en hul behoeftes te kommunikeer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article