De-Nick Louw is onlangs dood nadat sy van die hospitaal af huis toe gestuur is. Foto:


’n Pa van Wolseley is hartgebroke sowel as woedend nadat sy vyf maande oue babadogter, De-Nick, dood is nadat sy uit Ceres-hospitaal se ongevalle ontslaan was.

Johan Louw verduidelik hy het Sondag 30 Junie ’n ambulans ontbied omdat sy dogter ’n maagaandoening gehad het.

“Om 23:00 het ek nooddienste gebel oor my kind se maagprobleme. Hulle het haar kom haal en sy was toe by die ongevalleafdeling van die hospitaal opgeneem. ’n Dr. Williams het my kind op suurstof geplaas wat nie nodig was nie omdat daar niks fout met haar asemhaling was nie. Die probleem was wel dat sy erge diarree gehad het,” verduidelik hy.

Op 2 Julie is Louw se dogter ontslaan en hulle is gesê om die volgende dag na die Wolseley-kliniek te gaan vir ’n opvolgondersoek.

“Nadat my kind baie swak en pap-siek was, was my kind kort van asem en sy het gesukkel om asem te haal. Hulle het ook aanbeveel dat my kind op 3 Julie by die Wolseley-kliniek moet wees. Ek kon sien dat daar fout is by De-Nick. Ons het heel nag met haar wakker gesit. Daar was groot fout. Om 06:00 die oggend van 3 Julie het my kind gesterf.”

Louw is van mening die departement van gesondheid is verantwoordelik vir sy kind sy dood.

“Die departement is verantwoordelik vir my kind se dood. Ek verwag dat die departement verantwoordelikheid vat vir dit en die dokters wat my kind leed aangedoen het moet my persoonlik kom sien. Dis moord.”

Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Regering Gesondheid en Welstand, sê hulle is baie hartseer om te verneem van Louw se dogter se sterfte.

“Ons is baie hartseer om te verneem dat mnr. Louw se familielid tuis oorlede is en deel ons innige meegevoel met die familie in hierdie hartseer tyd.”

Sy verduidelik ook dat Louw se dogter goed gereageer het op die medikasie wat sy toegedien is.

“Die jong pasiënt is op 1 Julie om 00:10 na ongevalle by Ceres-hospitaal gebring met simptome van diarree-siekte. Mediese personeel het haar toestand met aankoms geëvalueer en sy is kort daarna deur ’n dokter ondersoek. Sy is daarna in die kindersaal opgeneem vir behandeling en sodat haar toestand deurlopend gemonitor kon word. Sy is gereeld deur ’n dokter besoek en ons opgeleide mediese personeel het haar toestand gemonitor. Die pasiënt het goed gereageer op die omvattende behandeling en teen 11:31 op 2 Julie was ons mediese span tevrede dat haar toestand stabiel is en dat sy ontslaan kan word.”

Hoewel dit nog nie bekend is waaraan die meisie dood is nie, het Maritz bevestig iemand van die hospitaal het Louw gekontak.

“Ons deel mnr. Louw se ontsteltenis oor sy familielid se afsterwe en neem sy aantygings baie ernstig op. ’n Senior personeellid het hom gekontak en ons bly in verbinding tot ons verder ingegaan het op die saak en terugvoer kan gee aan die familie.”

Volgens Louw het hy ’n epos ontvang van die hospitaal af ontvang wat vra vir ’n vergadering.

“Ek het e-pos ontvang wat vra dat ek Vrydag met iemand van die hospitaal vergader. Ek persoonlik het die minister [van gesondheid] verlede week gebel en nie eens hulle het teruggekom na my nie. Ons gaan dit nie net so los nie, hulle moet verantwoordelikheid neem vir hul foute. Ek dink nie die nuwe studente is bekwaam om almal te diagnoseer nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article