Verf is steeds die beste en goedkoopste metode om jou huis in ’n kits ’n nuwe voorkoms te gee.
Flaters met verf kies
“Die grootste fout wat mense maak, is om ’n klomp klein kleurmonsters van 30 cm² teen ’n muur te verf met ’n klein verfkwas,” sê Claire Bond, van Plascon Living Concepts, Design Quarter, Fourways.
“Om die regte aanduiding van die finale kleur te kry, moet jy die verf met ’n roller aanwend en dit twee lae gee. Die ander probleem met ’n klein verfmonster is dat die omliggende muur se kleur dit beïnvloed. Daarom moet jy ’n proefneming in ’n blokvorm van minstens 1 m² doen.”
Kies so die regte kleur
Dit is nooit maklik om in ’n vertoonlokaal te staan en ’n kleur te kies nie. Die volgende wenke sal help:
- Besoek ’n verfwinkel met ’n goeie vertoonlokaal en kry kleurkaarte van kleure wat pas by jou uitknipsels of idees.
- Gebruik jou tyd. As jy nie seker van die kleur is nie, neem die verfkaarte huis toe en dink na daaroor.
- Kies twee of drie kleure, koop ’n klein blikkie verf van elk en verf dit op los panele van ongeveer 1×1 m. Kyk na die verfmonsters in verskillende vertrekke, teen verskillende mure en op verskillende tye van die dag. Die lig in ’n vertrek, of die tekort daaraan, verander ’n kleur dramaties.
- Hou die grootte van ’n vertrek in gedagte. Donkerder kleure laat vertrekke intiemer voel, terwyl dieselfde kleure regdeur ’n huis die vertrekke ruimer laat voel.
- Hou tred met modekleure, veral as jy beplan om binnekort te verkoop.
- Kleure kan ook baie goed gemeng word van ’n voorbeeld af indien jy nie die regte kleur op ’n kleurkaart kry nie.
- Verfwinkels wat verskillende verfreekse aanhou kan enige kleur in enige verf meng, byvoorbeeld ’n Plascon-kleur in Earthcote en andersom.
- Indien jy tussen twee kleure moet kies, is die ligter kleur van die twee die veiligste opsie. – Tuis


