Watter soort oppervlakte vir jou kombuis?
Sintetiese klip
Mensgemaakte klipwerkblaaie is tans vuurwarm nuus in al wat kombuis is wat opgeknap word, én in nuwe kombuise. Talle mense in die bedryf glo dit skop stof in die oë van hul natuurlike eweknieë soos klip en graniet – vandaar die stewige prys.
CaesarStone en Technistone is ’n kwarts-hars-en-pigmentmengsel, Silestone bevat 94% natuurlike kwarts, terwyl Surinno gemaak word van akrielpoliësterharpuis. Verskeie ander handelsmerke is ook te kry.
Sintetiese oppervlakke is duursaam, hittebestand, nie poreus nie en maklik om skoon te maak. Dit kan egter krapmerke opdoen of deur warm potte geskroei word, hoewel die meeste merke uitgepoleer kan word.
Vriendelike bamboes
Werkblaaie van bamboes is die nuwe ekovriendelike keuse, want littekens wat steengroewe en myne agterlaat ná marmer, graniet en ander klip uitgehaal is, is moeilik om te rehabiliteer.
Bamboes is ’n volhoubare gewas wat binne vier jaar volwassenheid bereik. Die stamme word net gedeeltelik geoes en nuwe stamme neem gou hul plek in.
Werkblaaie is duursaam en in verskillende greine en kleure te kry.
Bamboes moet, net soos hout, geseël word, maar dis beter teen water bestand. Net soos hout, kan bamboes afgeskuur word en kan dit dus ’n leeftyd hou.
Graniet en marmer
Graniet en marmer bly gewilde keuses in die kombuis en voeg waarde tot jou eiendom toe, aangesien dit esteties tydloos en klassiek is en in die meeste mense se smaak val.
Graniet is gespikkel, terwyl marmer are het. Graniet is sterker en digter as marmer. Dié werkblaaie is baie duursaam en kan ’n leeftyd hou. Omdat dit ’n natuurlike steen is, kan warm potte op die oppervlak neergesit word sonder om dit te beskadig. ’n Nadeel van marmer is dat dit effens poreus is en moontlik vlekke kan opdoen.
Bekoor met teëls
Teëls is in ’n enorme verskeidenheid ontwerpe, kleure en teksture te kry. Porselein- en keramiekteëls is die twee algemeenste soorte en is bekend vir hul duursaamheid.
Onthou net, teëls moet behoorlik verseël wees sodat bakterieë nie daar kan broei nie. Die voegbry tussenin is ook ’n tameletjie om skoon te hou, terwyl teëls ook kan kraak of afsplinter. – Tuis



