Ongeziwe Khuphiso se visier is op die titel van Mej. Tiener Suid-Afrika.Foto: Enrico Claassen


Sy was maar net sewe jaar oud toe sy die eerste keer aan ’n skoonheids­kompetisie in haar tuisdorp, Barkley-Oos in die Oos-Kaap, deelgeneem het. Sy is toe as tweede prinses gekroon.

Nou is die 18-jarige Ongeziwe Khuphiso – deesdae van Worcester – se visier op die titel van Mej. Tiener Suid-Afrika. Dié kompetisie word vanjaar op 13 Desember in Johannesburg aangebied.

’n Opgewonde Ongeziwe sê aan Standard Breederivier Gazette sy het in April vanjaar die goeie nuus ontvang dat sy die eindronde gehaal het.

“Ek was só opgewonde. Ek kon dit aanvanklik nie glo nie.”

Volgens Ongeziwe, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Somerset in Worcester, het sy by haar ouma in Barkley-Oos grootgeword. Sy het in 2016 besluit om by haar ma, Zoliswa Khuphiso, in Worcester te kom woon.

“Toe ek Worcester toe kom, het ek nuwe geleenthede gesien. Ek het toe vir myself gesê as die tyd reg is, gaan ek weer aan skoonheidskompetisies deelneem – enigiets om my horisonne te verbreed.”

Volgens Ongeziwe het sy in gr. 5 by TSGC Models aangesluit. In gr. 7 het sy egter besluit om maar vir eers op haar studies te fokus.

Sy sê Khensani Mnisi, die eerste prinses in die 2021- Mej. Tiener Suid-Afrika-skoonheidskompetisie, was haar inspirasie.

Volgens Ongeziwe het sy (Ongeziwe) twee dae voor die sluitingsdatum besluit om vir vanjaar se kompetisie in te skryf. Sy sê toe sy die goeie nuus kry dat sy die halfeindronde gehaal het, het sy onmiddellik aan die werk gespring.

“Ek het met ’n geestesgesondheids-veldtog begin. As deel van my veldtog het ek teruggegaan na my gewese laerskool in Barkley-Oos en die leerders daar oor geestesgesondheid toegespreek.

“Ek plaas ook video’s op sosiale media waarin ek praat oor angs en depressie.

“Op Instagram gesels ek ook met sielkundiges oor kwessies wat tot geestesongesteldheid kan lei.”

Volgens Ongeziwe wil sy graag wegdoen met die stereotipe dat geestesongesteldheid iets is om oor skaam te wees en dat dit ’n siekte is.

Die sluitingsdatum vir stemmery vir die Mej. Tiener Suid-Afrika-Skoonheidskompetisie was 31 Oktober.

“Ek beskou nie die ander deelnemers as mededingers nie, maar eerder myself. “Ek wil myself uitdaag; beter vaar;— uit my gemaksone kom.”

Hoewel sy eendag ook aan die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie wil deelneem, wil Ongeziwe ná skool ’n rigting in die regte of politieke wetenskap volg.

Haar raad aan jongmense wat graag aan skoonheidskompetisies wil deelneem, maar te skaam is: “Eerstens, werk aan jou selfbeeld, want alle oë gaan op jou gerig wees. Jy moet jouself ken, weet waar jy vandaan kom.

“Maak seker jy weet wat jou doel is en waarvoor jy staan.”

Ongeziwe kan op Instagram gevolg word by oj_khuphiso.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article