Die Kaapse Wynland- Kersfeeskore-unie hou ná twee jaar weer kompetisies.
Die kore het weer volstoom begin oefen aan die voorgeskrewe lied naamlik Precious, wat nogal ’n lekker uitdaging bied met die voordra daarvan. Orkeslede sal die twee jaar se roes gou moet afskud om weer hul instrumente te kan baasraak.
Alle paaie lei eerskomende Sondag (6 Maart) na Robertson en toeskouers sien weer uit om hul kore by die Van Zylstraat-sportterrein in aksie te sien.
Die gasheerkoor, Old St. Blues, wat as die gunsteling beskou word, sal in alle afdelings deur die uniekampioen van 2020, The Fleet van Worcester, uitgedaag word. Die Kaapse Wynland-unie pronk ook deesdae met die Meesterkore en daar word ook hard agter die skerms gewerk sodat plattelandse kore eersdaags hul eie raad kan vorm.
Die kore wat Sondag gaan deelneem, is Old St. Blues, Wellington, Cerecians, Bella Vista, St. Georges en The Fleet.
Covid-19-protokol sal gehandhaaf word.
Die laaste twee jaar het ook sy tol geëis en kore word nou genoodsaak om hul lede van voor af te motiveer omdat die meeste kore se lede belangstelling verloor het.
Dit gaan ’n tydjie neem voordat kore weer volstoom kan optree.
Die twee jaar het ook die werksaamhede van kore vertraag en baie van die kinders het hul klere ontgroei, dus is daar baie druk om aan die besgeklede item deel te neem.
Kore word aangeraai om vroeg op te daag, want gazebos gaan net by ’n sekere punt opgesit word aangesien warm temperature vir Sondag voorspel word.. Die hekke open reeds om 08:00 en die kompetisie begin stiptelik om 10:00. Toegang beloop R30 vir volwassenes, R20 vir kinders en R20 vir voertuie. The Fleet se toeskouers se busgeld is R130, wat toegangkaartjies insluit. Die bus vertrek om 06:30. Vir meer inligting kontak die sekretaris, Desiree Parker, by 069 320 0364.


