Dayan van der Westhuizen van die Boland- Kavaliers probeer verby twee spelers van die Luiperds beur. Boland het die Eersteliga-wedstryd 71-7 gewen. Foto: Mark Ward


Die Sanlam-Boland-Kavaliers het Saterdag (6 Julie) min moeite ondervind om die Leopards in ’n Curriebeker-Eersteliga- wedstryd op Boland Stadion in Wellington met 71-7 te troef.

Die Kavas het die manne van Potchefstroom hoofbrekens besorg op die aanval en is met elf drieë beloon. Die regtervleuel van Sanlam Boland, Duren Hoffman, het ’n driekuns drieë behaal en is ná die wedstryd welverdiend as Speler van die wedstryd aangewys. Die heelagter, Domenic Smit, het in die vierde minuut van die wedstryd Boland se eerste verdoelde drie gedruk. Onmiddellik daarna het die nr.-4-slot, Ameer Hendricks, met ’n pragdrie, verdoel deur Ashlon Davids,afgerond.

Die span van Hawies Fourie, die hoofafrig­ter, het reeds in die 17de minuut van die eerste helfte hul bonus-punt- vierde drie behaal. Die Leopards kon eers in die 23ste minuut van die eerste helfte hul eerste en enigste punte in die vorm van ’n verdoel­de drie aanteken. Domenic het sy tweede drie net voor rustyd gedruk om sy span 38-7 te laat voorloop, gevolg deur rustyd.

Met die aanbreek van die tweede helfte het Xavier Mitchell vlymskerp in die middelveld deurgebreek om sy tweede drie aan te teken. Mitchell en Lunathi Nxele, wat weer terug is in die Boland-kamp, het goed as ’n senterpaar gekombineer. Nxele was ook lid van die Boland-span wat verlede jaar die Curriebeker-Eersteliga-trofee verower het.

Hawies se span het egter ’n insinking in die tweede helfte beleef en kon eers weer in die 25ste minuut punte aanteken toe Marlyn Williams vir sy span gaan afrond het. Met 11 minute oor het Darian Hock, wat as plaas­ver­vanger op die veld verskyn het, sy klas gewys met ’n goeie breukslag in die middelveld en reg onder die pale gaan druk en verdoel het. Nog ’n plaasvervanger, Bentley Geldenhuys, het die laaste sê vir die Sanlam-Boland-Kavaliers gehad, verdoel deur Hock.

Sanlam-Boland-puntemakers: Drieë: Domenic Davids (2), Ameer Hendricks, Duren Hoffman (3), Xavier Mitchell (2), Marlyn Williams, Darian Hock, Bentley Geldenhuys. Doelskoppe: Ashlon Davids (5), Darian Hock (3).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article