’n Bekende prokureur van Worcester, Jacques Marais (61), is Dinsdag (16 Augustus) oorlede.
Jacques, wat talle beskryf as “vreesloos” en “saggeaard”, het sy stryd teen kolonkanker verloor.
Jacques se vrou, Elaine, ook ’n bekende in die dorp, het dié nuus aan Standard bevestig.
“Jacques het sowat twee jaar gelede ernstig teen Covid-19 baklei. Hy was 77 dae in die hospitaal. Hy was die meeste van die tyd op ’n ventilator, maar het wonderbaarlik en pragtig herstel. Hy kon weer begin werk en doen waarvoor hy lief is. Dit het vir ses maande goed gegaan, maar ongelukkig is fase 4-kolonkanker in November 2021 by hom gediagnoseer,” verduidelik Elaine.
Jacques het met behandeling begin en chemoterapie ontvang. Elaine sê hulle was baie hoopvol, maar die kanker het reeds ’n aggressiewe graad bereik en die behandeling het nie ’n impak gehad nie. Sy sê dit was ’n bitter moeilike tyd, maar haar man was steeds “hoopvol en vol liefde”.
“My man was iemand wat die Here met sy hele lewe gedien het. Hy het in alles wat hy gedoen het, die Woord probeer uitleef. Sy menswees en liefde vir ander is beduidend in die feit dat soveel mense in hierdie moeilike tyd na ons uitreik.”
Elaine en Jacques was vanjaar 24 jaar getroud en het mekaar sowat 26 jaar gelede ontmoet.
“Hy het altyd geskerts en gesê hy het my op kampus dopgehou. Ons albei het by Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) studeer. Hy het Worcester toe verhuis om sy loopbaan as prokureur hier te begin en hy en my broer was vriende. Hy het eendag daar gekuier en ons het begin gesels,” vertel sy verder.
Die paartjie het drie pragtige kinders in die lewe gebring en Elaine sê hulle kyk almal op na hul pa.
Huldeblyke van oral het op sosiale media ingestroom.
Elma Spies skryf op Facebook: “Ek is so jammer om te hoor. Gaan sy kuiertjies by die winkels vreeslik mis – met al sy grappies en ernstige geselsies wanneer nodig. ’n Ware Godsman. Sterkte vir die gesin. Bid vir julle.”
Meer as 200 mense het op Facebook uitgereik nadat Elaine die nuus gebreek het.
“Ons is nou op soek na ’n groot venue vir die begrafnis. Oor die 300 mense het my al gekontak, en dit wys net vir my hoe geliefd Jacques was.
“Ons sal hom vreeslik mis en dit is moeilik, maar ons sal hom altyd onthou.
“Iets wat my altyd sal bybly, is dat hy presies om 08:16 op die 16de van die agtste maand oorlede is – ons sal die dag en tyd dus altyd onthou,” vertel sy verder.
Jacques word Vrydag 19 Augustus in Worcester begrawe. Nadere besonderhede sal deur die familie bekend gemaak word.





