Drie produkte wat in die Kaapse Wynland vervaardig word, pronk nou met kampioenstatus.

Montagu Foods se Shoprite Housebrand/Ritebrand- perske-vrugteblatjang is as die beste blatjang by die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap aangewys terwyl Willow Creek se olyftapenade met swart olywe, ansjovis en kappertjies as beste tapenade gekroon is. Jumping Jackal Delicacies het op sy beurt in die ingelegde groente afdeling gewen.

Die prysuitdeling is verlede Dinsdag (19 Augustus) by Lanzerac in Stellenbosch gehou.

‘n Tradisionele gunsteling, makataanwaatlemoen, het opnuut gewys waarom dit ‘n plek in die Suid-Afrikaanse kombuis verdien, met Compagniesdrift se Makataan Chunks, wat as die Beste Suid-Afrikaanse preserveerproduk van die Jaar aangewys is. Dié wenproduk was een van 456 inskrywings van 66 vervaardigers in die nuutgestigte Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap, wat deur Agri-Expo – die oudste landbougenootskap in die land – aangebied is.

‘n Beoordelaarspaneel van 38 kenners het die inskrywings deur middel van ‘n streng blinde proeproses geëvalueer. Uiteindelik is 70 produkte van 29 vervaardigers as Suid-Afrikaanse kampioene aangewys, met 11 afdelingswenners wat bo uitgestyg het. “Suid-Afrikaanse verbruikers kan werklik kies en keur wanneer dit by gehalte kom,” het die hoofbeoordelaar, Susina Jooste, ‘n koskenner en opleidingspesialis, gesê. “Compagniesdrift se makataanstukke het uitgestaan met ‘n wenkombinasie van voorkoms, smaak, tekstuur en gehalte. Om die Produk van die Jaar in ‘n kompetisie van hierdie kaliber te wees, is ‘n besondere prestasie.”

NUWE PLATFORM VIR PRESERVEERPRODUKTE

Volgens Breyton Milford, die hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskap, is die kompetisie geskep om preservering in die kollig te plaas, erkenning aan topgehalte-produkte te gee en sodoende ekonomiese ontwikkeling te help bevorder.

“Die groot aantal inskrywings wys duidelik daar is ‘n behoefte in die bedryf vir só ‘n platform.”

“Die uitslae getuig van ‘n innoverende sektor en gesonde mededinging – van gevestigde handelsmerke tot kleiner en opkomende vervaardigers. ”

Milford het die goue vennote, ClemenGold en Hollard, vir hul ondersteuning bedank: “Sonder ondersteuning uit die bedryf sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie.”

Volledige uitslae by www.sapreservechamps.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article