Veligheidskameras gaan binnekort in Riverview en Avianpark opgerig word.


Die Breedevallei-munisipaliteit gaan eersdaags kameras in Riverview en Avianpark aanbring.

Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester, sê hierdie plan is al lank op die tafel.

“Ons moes eers behoorlik vir hierdie projek begroot. Ons wou nie net kameras installeer net om kameras te hê nie. Dit moet die regte soort kameras wees wat die polisie met gesigherkenning kan help,” sê Steyn.

Verder verduidelik sy die polisie het haar genader vir hulp in die gebiede waar misdaad en geweldsyfers hoog is.

“Gebiede soos Riverview en Avianpark het voortdurende uitdagings met geweld, en dus het die polisie gevra dat ons begin met die aanbring van kameras in Riverview en dan oorbeweeg na Avianpark. Ons gaan kameras in Riverview in Buitenkantstraat laat oprig – al die pad tot by ‘platdakkies’.”

Die kameras wat aangebring gaan word, sal 360 grade kan draai om groter gebiede te kan dek.

Die munisipaliteit is nog besig om ter voorbereiding van die kameras kabels aan te lê en pale te plant, en die projek kan reeds in Julie amptelik aangeskakel word.

“Ons wil graag ook deur middel van hierdie projek hande met die gemeenskap vat en ook buurtwagte laat herleef. My hoop is dat die kameras as motivering vir inwoners sal dien om weer by die buurtwag aan te sluit en die polisie met die identifisering van ongewenste elemente te help,” verduidelik die burgemeester.

Die kameras se beeldmateriaal sal 24 uur ’n dag deur ’n derde party gemonitor word en hulle sal inligting aan die polisie deurgee soos nodig.

Laastens, voeg die burgemeester by, is ander dorpe in die Vallei ook op die lys om kameras te kry.

“Ons moet nou eers weer gaan kyk na ons begroting en al die ander elemente wat deel van hierdie spesifieke proses is voordat ons verdere besluite kan neem.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article