Die probleem met die toegegroeide dam in Worcester tussen die Hoërskool Montana en Mountain Mill-rylaan geniet aandag, het die Breedevallei-munisipaliteit gesê.

Die vinnig groeiende waterplant Salvinia molesta het hande uitgeruk en bedek die hele oppervlak van dié kleiner dam.

Die munisipaliteit het gesê hy beheer die onkruid op ‘n biologiese manier deur salvinia-kalanders vry te laat wat die plant se groei mettertyd beperk.

“Hoewel dié proses doeltreffend is, neem dit geduld om te wag dat die natuur sy gang gaan. Die munisipaliteit hou die situasie fyn dop en sal bykomende stappe neem indien nodig,” het die munisipaliteit gesê.

Dié metode is ook in vorige jare gebruik. In die larwe-stadium vreet die kalanders die salvinia se groeipunte en wortels, terwyl ouer larwes in die risoom in grawe wat die blare laat afval.

Volwasse insekte vreet die blare.

Die plante wat beskadig is, sal na die bodem van die dam sink waar dit mettertyd vergaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article