Onbekwaamhede by die Kaapse hawe kos appel- en peerboere jaarliks R26 000 per hektaar, terwyl die vrugtebedryf as geheel weens vertragings en die ondoeltreffendheid van dié hawe ly.

“Hoewel ons erken dat die bestuur van die Kaapse hawe ’n strategie vir uiteindelike ommekeer implementeer en die verkryging van nuwe infrastruktuur verwelkom, is die kommerwekkend stadige tempo waarteen dit gebeur ’n groot kwelpunt en het dit regstreekse koste-implikasies vir die landbousektor in die Wes-Kaap,” sê die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, ná sy besoek aan Two-a-Day (TAD) in Grabouw.

TAD, voorheen bekend as Elgin Fruit Packers Koöperatief Beperk, is een van Afrika se voorste maatskappye in die groei, verpakking en bemarking van vrugte.

Die groep bestaan uit meer as 50 plase, wat 3 300 hektaar beslaan. Die totale produksie, insluitend verwerking, beloop meer as 200 000 ton per jaar.

Tydens die besoek het Attie van Zyl, die besturende direkteur van TAD, beklemtoon dat die beraamde koste van ondoeltreffendhede by die Kaapse hawe die Wes-Kaapse appel- en peerbedryf jaarliks sowat R999 miljoen kos.

“Ons appel- en peerprodusente word direk geraak. Die beraamde koste vir ons boere weens ’n disfunksionele hawe is R26 000 per hektaar,” sê Van Zyl.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het verder verduidelik hoewel hierdie syfer reeds kommerwekkend is, weerspieël dit nie die volle omvang van die verlies vir die landbousektor nie, aangesien die geleenthede wat verlore gaan om na nuwe markte uit te brei, nie bereken word nie.

“Ons word nie op die internasionale mark as ’n betroubare verskaffer beskou nie omdat ons nie aflewering kan waarborg nie,” sê Winde.

Glen Steyn, ’n projekbestuurder vir logistieke ontwikkeling by die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, sê die departement werk nou saam met die bestuurspan van die Transnet-hawe-owerheid en Transnet-hawe-terminusse in die westelike streek.

“Ons waardeer ons konstruktiewe samewerking met die Transnet-hawe-owerheid. Ons gesprekke dek die uitwerking van logistiek op die nasionale en provinsiale ekonomie. ’n Digitale logistieke beplanningsplatform word saam met Transnet en ander agentskappe in die houerlogistiekketting ontwikkel om bottelnekke te verminder en ontwrigting van vragvervoer te voorkom,” voeg Steyn by.

“Die Wes-Kaapse regering se Groei vir Werk-strategie sit ons ambisieuse plan uiteen om die Wes-Kaapse ekonomie teen 2035 jaarliks met 5% te laat groei. Ons beoog om die waarde van die provinsie se uitvoer van goedere en dienste (insluitend toerisme) teen 2035 tot R450 miljard te verdriedubbel. Om dit te bereik, benodig ons ’n doeltreffende hawe. Produktiwiteit by die Kaapse hawe moet aansienlik verbeter in die aanloop tot die komende vrugte-uitvoerseisoen om hierdie doel te bereik,” sê Meyer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article