Daar is ook ‘n uitvoerende raad van die junior stadsraad verkies. Op die foto is dr. Julian Kritzinger, Ruzelle Benn, Onalo Mzazela, Callib Witbooi, Lisa Deale en Esmerelda Pekeur. Agter is past. Werner Links, Charles Beukes, Sebastian le Roux, Helette du Plessis, Iminathi Ntunta, landdros Cornel Botes en Elton Shortles.

Die junior stadsraad het op Vrydag 27 Februarie die leisels oorhandig aan die nuwe raadslede wat die werk vir die volgende termyn sal voortsit.

Die inhuldiging het by die Hoërskool Montana in Worcester plaasgevind.

Die leerders, wat verskeie skole verteenwoordig, is deur die plaaslike prokureur Elton Shortles toegespreek wat vertel het hoe hy groot hartseer in sy matriekjaar moes oorkom.

Ná sy ma se skietdood by die werk, net twee maande voor sy matriekeksamen, moes hy groot deursettingsvermoë aan die dag lê, ten spyte van sy hartseer. “Jou omstandighede definieer jou nie, maar jou reaksie daarop wel,” het hy vir die leerders gesê.

Die nuutverkose junior burgemeester is Onalo Mzazela. “Hierdie rol behoort nie net aan my nie – dit behoort aan ons almal. Kom ons lei met ‘n doel, kom ons dien met ons harte, kom óns maak ‘n verskil. Ons is nie net die leiers van môre nie, ons is die verskilmakers van vandag. Laat ons die generasie wees wat nie wag op verandering nie, maar self die verandering word,” het hy gesê.

Die eerste junior stadsraad is in 2007 ingehuldig onder die vaandel van Community Help and Information project of Students (Chipros) wat reeds in 1982 deur Charles Beukes tot stand gebring is. Dié trotse tradisie van jonges wat leiding neem en betrokke raak in hul gemeenskap gaan steeds voort.

Die nuwe raad

Die junior stadsraad is Chary Moos, Cody Simpson, Jade Uys, Ruzelle Benn (almal van die Hoërskool Breërivier), Elzé Manisi, Jamie-Lee Strydom, Keano Hlazo, Keesha Vellem (Esselen Park Secondary), Henry Kriegler, Jayden Dees, Khara Lambrechts, Shannon Sars, Helette du Plessis (HTS Drostdy), He­loise Calitz, Lisa Deale, Caillib Witbooi, Zaydley Human (Hoërskool Montana), Blessing Nhundu (Pionierskool), Erin Pyne, Iminathi Ntunta, Olwam Mdyada, Sibusise Mapakathi (Somerset High School), Inam Madlebe, Onothando Louw, Oyintando Mbolekwa, Sinokuhle Ngcango (Vusisizwe Secondary), Angelica Issel, Kirsty-Joy Valentine, Onalo Mzazela, Sebastion le Roux (Worcester Gimnasium), Chloe Page, Glenicia Naude, Kamohelo Makause en Zoë Murphy (Worcester Secondary).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article