Jong swemmers uit die streek het die afgelope naweek behoorlik beïndruk by die Watersprite-swemskool se pret-gala.Foto: Verskaf


Watersprite-swemskool het Saterdag 16 Maart sy eerste amptelike pretgala in Worcester gehou. Onder leiding van die stigter Lucinda Solomons en haar bekwame span vroue-afrigters was die dag ’n reusesukses.

Al die beplanning en al die stres wat gepaard gaan met die organisering van so ’n byeenkoms, het amper tot niet gegaan. Die klub het ’n dag voor die gala kennis gekry dat die swembad waarin die kinders moes swem, onveilig was weens die hoë suurvlakke van die water. Die afrigter Enid Versfeldt moes inderhaas ’n ander plan beraam. Met die hulp van Talitha Nortje, hoofafrigter van Lane Leaders-swemskool, is op kort kennis toegang verkry tot De la Bat- skool vir Dowes se swembad.

Trotse ouers, familie en vriende het byeengekom om hul swemmers te ondersteun. Die pragtige sonskyndag was in die deelnemers se guns. Sowat 80 swemmers het mekaar die stryd aangesê. Uit Worcester het swemmers gekom van die swemskole Lane Leaders, Grace en Crazy Splash. Robbies- swemskool van Robertson en Aquarius- swemklub van Paarl het ook hul swemmers gestuur.

Die o.7-kleinspan het pragtige vernuf getoon met hul paddavoete en skopborde in hul afdelings. Hulle het ’n volle lengte van 25 m moeiteloos geswem. Die ouer kinders van onderskeidelik nege tot 13 jaar het die skare vermaak met opwindende aflos-, vryslag-, bors- en rugslag-items. Vir van die toeskouers was dit die eerste keer dat hulle die kinders in aksie gesien het. Baie van die kinders het nog nooit in ’n gala geswem nie. Die medaljes en sertifikate wat uitgedeel is, het groot glimlagte op die gesiggies laat pronk.

Die toewyding en dissipline is alles te danke aan ’n wonderlike afrigtingspan. Om te kan swem, is so ’n waardevolle vaardigheid om te hê. Kinders word geleer van waterveiligheid en veel meer. Die afrigter Gloria Solomons is baie geliefd onder die kinders. Sy help kinders met deernis en geduld om hul vrees vir water te oorkom.

Ouers word aangemoedig om hul kinders by Watersprite-swemskool in te skryf – dit is gewis die moeite werd. Dit is tragies om elke jaar te verneem van talle verdrinkings in ons streek.

Die span by Watersprite is trots op hul swemmertjies en besonder dankbaar teenoor die ouers, borge en vele ander rolspelers wat die dag moontlik gemaak het. Hulle beplan reeds aan volgende jaar se gala en glo dit gaan groter en beter wees.

Hulle maak staat op die gemeenskap van Worcester se ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article