Ouers en afrigters van ’n plaaslike swemskool is teleurgesteld in die plaaslike gimnasium aangesien hulle die swembad – glo weens ’n foutiewe verhittingstelsel – nie kan gebruik nie.


Ouers en afrigters by ’n plaaslike swemskool is keelvol vir leë beloftes en min antwoorde nadat hulle die afgelope seisoen met die temperatuur van die plaaslike gimnasium se swembad moes sukkel.

Hierdie swemskool, wat al sedert 2003 van die Motion Fitness-gimnasium se swembad gebruik maak, verduidelik dat hulle sowel as ouer mense wat water-gimnastiek beoefen, en diegene wat in verskeie watersporte meeding, erg geraak is deur die feit dat die water nooit meer verhit word nie en bykans geen kommunikasie in hierdie verband aan die gebruikers deurgegee word nie.

“Worcester is die enigste dorp in die omgewing wat ’n verhitte, onderdak-swembad van 25 m het,” verduidelik Ingrid van der Westhuizen, wat jare lank al baie nou by die swemskool betrokke is. “Ek het oor die jare heen swemmers van so ver as Sutherland en Robertson gehad wat hier kom swem het – en al die ander dorpe tussenin. Dit het tweekamp-, driekamp- en langafstandswemmers ingesluit. Enige swemmer wat mededingend swem, moet minstens 10 tot 11 maande van die jaar oefen. Worcester en omliggende dorpe het sedert 2003 topswemmers opgelewer. Talle van ons swemmers het medaljes op nasionale vlak gewen. Ons het Westelike Provinsie-,  Suid-Afrikaanse en selfs Wêreldrekordhouers gehad – almal van Worcester.”

Volgens ouers en mense met wie Standard gepraat het, wissel die storie elke dag. Party sê die stelsel wat die water verhit, is stukkend, terwyl ander meen die gimnasium skakel die stelsel bloot af om geld te spaar. Intussen ly die swemmers daaronder.

“Ons dorp het sewe verskillende instellings wat vir gestremde mense ingerig is. Ons het veral met die dowe kinders van De La Bat baie vordering gemaak deur hulle blootstelling aan professionele afrigting te gee. Buiten vir die feit dat daar nie meer fasiliteite vir ons dorp se kinders is nie, is van hulle se drome ook daarmee heen.

“Die gala-seisoen begin in Mei elke jaar. Indien ’n swemmer nie deurgaans aan al die galas deelneem nie, kan hy geen tye in die Wes-Kaapse databank kry nie. Dit beteken hulle kan nie aan die Wes-Kaapse of Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelneem nie.

“Swemmers wat by universiteite aansoek om swembeurse wil doen, sal dan moontlik nie keuring kry nie.”

Die gimnasium stel egter sy kant van die saak en verduidelik dat die huidige stelsel vir die gebrek aan diens blameer word.

“Die ou lugversorging- en waterverhittingstelsel is uitgedien en ondoeltreffend, veral met inagneming van die styging in die prys van elektrisiteit die afgelope vyf of ses jaar,” verduidelik Anri van Heerden van Motion Fitness. “Ons het in ’n poging om ons ledegeld so laag as moontlik te hou ’n groot bedrag in die stelsel belê, wat dit nou baie meer ekonomies en doeltreffend maak. Hoe die stelsel werk, is deur die hitte wat deur die lugversorgingstelsel opgewek word, te gebruik om die water vir die badkamers en swembad te verhit.”

Sy sê die huidige stelsel is uit Italië ingevoer en slegs ’n maatskappy in Kaapstad mag dit diens en herstel. Elke keer as die stelsel ’n meganiese fout het, is die eerste stap in die proses dat hierdie maatskappy uitkom en vasstel wat die probleem is. Vir hierdie diens vra hulle ’n stewige fooi. Na gelang van wat fout is, moet die vereiste onderdele dan bestel en versend word.

“Hoewel ons die stelsel steeds kan bestuur, is dit dan nie doeltreffend nie en kan dit dus nie die daaglikse vereistes van die klub hanteer nie. As die probleem by die lugversorging lê, verskaf dit nie die nodige hitte vir die storte en die swembad nie, soos tans die geval is.

“Dit, gekombineer met beurtkrag, maak dit baie moeilik – en selfs onmoontlik – om die swembad se water die vereiste temperatuur te hou. Ons het egter ’n rugsteunstelsel, maar dit het ook gebreek as gevolg van al die kragonderbrekings weens beurtkrag,” voeg sy by.

Sy sê hulle hef nie diensgeld van die swemskool vir die tyd wat die stelsel foutief is nie en werk hard agter die skerms om die situasie te beredder.

“Indien die gimnasium nie die swembad kan of wil onderhou nie, sou my voorstel wees dat hulle so vinnig as moontlik ’n besluit neem en dan die res van die gemeenskap daarvan in kennis stel.

“Net een vraag moet dus gevra word: Gaan die swembad reggemaak word, of gaan die swembad tot niet? As hulle [die gimnasium] gaan toelaat dat die swembad tot niet gaan, is dit net regverdig om almal daarvan in kennis te stel,” het Van der Westhuizen bygevoeg.

Een ouer meen egter hierdie is slegs ’n verskoning en beurtkrag kan nie alleen die skuld kry nie.

“Vir my is die onbetroubaarheid van Motion Fitness se swembad heeltemal belaglik en onaanvaarbaar. Dit is nie ’n nuwe swembad nie en beurtkrag is nie ’n nuwe ding nie, maar dit is nou die derde keer hierdie jaar dat die swembad nie reg werk nie,” kla die ouer.

“Ek betaal letterlik die gimnasium net om die swembad te gebruik, en ek voel ek mors my geld.

“Indien ons ’n ander opsie in die dorp gehad het, sou ek lankal die gimnasium afgeskryf het.

“Ek kry die kinders wat swemlesse neem, vreeslik jammer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article