Na die vorige naweek se geploeter teen Eleven Experience-sokkerklub, toe View of Hope se A-span 3-0 verloor het, het View hom die afgelope naweek reggeruk.

Hierdeur moes Rawsonville Gunners dit ongelukkig ontgeld en is 4-0 geklop.

View se afrigtingspan het nie minder nie as sewe veranderings aan die vorige week se beginspan gemaak om van die jong manne kans te gee. Dit was vir hulle om gewoond te raak aan die spelpatroon van die A-span, maar ook ter voorbereiding vir die seisoen se komende uitspeelwedstryde.

Dié heel nuwe span het eers gesukkel om momentum te kry, maar toe hulle begin saamspeel het hulle dinge vir Gunners moeilik gemaak.

Hope se eerste doel het deur die talentvolle doelskieter, die 15-jarige Juwarayne November, gekom toe hy die bal pragtig met die kop van ’n dwarsskop in die nette geplaas het.

Die manne het gaan water drink met die telling op 1-0.

Na rustyd het Hope begin waar hy opgehou het en sy aanvalle is beloon met nog ’n doel deur Junaid Pietersen, wat die telling na 2-0 gebring het.

Na Junaid se doel is hy en nog vier jong manne vervang met die ervare spelers, waarna die skare op uithalerspel getrakteer is. Die derde doel, aangeteken deur Cherwin Arendse en ’n gevolg van Hope se oorheersing, is aangeteken nadat hy die doelwagter slegs met ’n dwarsskop moes uitoorlê.

Gunner se doelwagter, wat nie ’n goeie dag beleef het nie, kon kort hierna ’n kanonskoot van Kelvin Butland nie keer nie en die krag daarvan laat dit binne-in die nette spat, telling 4-0.

Die wedstryd het kort daarna ten einde geloop met Juwarayne wat as speler van die wedstryd aangewys is, dit nogal in sy debuut vir die A-span.• Die uitspeelwedstryde vind hopelik hierdie naweek (10 of 11 September) op die sportterrein van Cloetesville in Stellenbosch plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article