Adeeb Ismail, Ian Otto, Sewes Pretorius, Warren (Flippie) Phillips en Charlton (Charlie) Schroeder het almal ná die George-ramp gaan help. Foto:


Met ’n ramp soos dié wat hom verlede maand in George afgespeel het, is alle hulp van kardinale belang.

Talle mense was vasgekeer toe ’n onvoltooide woonstelgebou daardie Maandag (6 Mei) ineengestort het. Vyf reddings­werkers van die Breedevallei is ook gevra om te help en hul kundigheid aan die situasie te verleen. Standard & Gazette het met Sewes Pretorius (brandweer) oor die ondervinding gepraat.

“Toe die provinsiale Rampbestuursentrum my oor die voorval kontak, het ek geweet dit was ’n ernstige oproep. Hulle het ons versoek om die provinsiale Tegniese Reddingskas en mannekrag te mobiliseer. My gedagtes het in beplanningsmodus oorgeskakel en ek het dadelik die proses begin om die personeel en kas gereed te kry om te vertrek.”

Hy sê die Breedevallei-brandweer bestuur die Stedelike soek-en-redding-kas namens die Wes-Kaapse provinsie.

“Hierdie kas bevat gespesialiseerde tegniese reddingstoerusting wat gebruik word om slagoffers op te spoor en swaar reddingsgereedskap om slagoffers te bevry.”

Die span is aanvanklik gevra om net vir drie dae op die toneel te help.

“Die aanvanklike versoek was om vir drie dae te bly, maar namate die omvang van die reddingsoperasie bekend geword het, het hulle ons versoek om langer te bly – tot die Vrydagoggend. Ek het uiteindelik vir tien dae – tot Woensdag 15 Mei – gebly.”

Pretorius verduidelik die omvang van die toneel was baie groot, maar hy en sy span het dadelik hul werk begin doen. Hy is ook van mening dat die diens wat hulle kon verrig, ’n eer was.

“Die voorval was enorm. Daar is vermeld dat tientalle mense vasgekeer was. Ons het by die voorvalbevelstruktuur aangemeld en ons rolle met instruksies is aan ons gegee.

“Ons is aanvanklik gevra om vas te stel waar die slagoffers onder die struktuur geleë is. Dit word gedoen met gespesialiseerde seismiese toerusting. Ons spanlede was betrokke by die identifisering van die meeste van die vasgekeerdes – wat ’n voorreg!”

Nie net was die span instrumenteel in die opspoor van verskeie slagoffers nie, maar het ook ander spanne tydens die optrede gelei – iets waarop Pretorius trots is.

“Ons span was betrokke by die redding van verskeie slagoffers. Hulle was nie net betrokke by die hoogs gespesialiseerde identifikasiepoging nie, maar was ook spanleiers van verskeie reddings. Onthou, ons was ook deel van ’n groter spanpoging en het ons rol vervul in een van die grootste reddingsoperasies in die geskiedenis van Suid-Afrika en die wêreld. Die manne was uitstaande en het die brigade geweldig trots gemaak. Ek het die rol van voorvalbevelvoerder vervul en was die nagskof-voorvalbevelvoerder totdat ek ná nege dae weg is.”

Hy erken dat dit baie traumaties was om by so ’n reddingsinisiatief betrokke te wees en dat die span van BVM berading sal ontvang.

“Ons brandbestryders is ook maar net mense, maar nie net die respondente op hierdie voorval nie. Brandbestryders is daagliks getuie van gewelddadige dood en vernietiging. Ek moet ’n lansie breek vir alle BVM-brandbestryders en ander oor die wêreld heen, wat die uiterste werksomgewings moet hanteer – veral om deur hul eie naby-dood-situasies te werk en dood en vernietiging te aanskou, veral waar kinders betrokke is. [Ek haal my] hoed af vir die BVM-brandweermanne – die merkwaardigste manne en vroue met wie ek die voorreg het om mee saam te werk. Hulle sal vir berading gaan.”

Hoewel hierdie ’n massiewe tragedie was, voel Pretorius bevoorreg dat hy deel aan die reddings kon hê.

“Hierdie voorval was ’n tragedie wat nie maklik in woorde omskryf kan word nie. Om by die reddingsoperasies by so ’n voorval betrokke te wees, is slegs ’n paar brandbestryders se voorreg. ’n Operasie soos hierdie is ’n groot spanpoging; niemand kan dit alleen doen nie. Trouens, die brandweer is ’n groot spanpoging. Vir my persoonlik was dit die hoogtepunt van my loopbaan. Wat ’n eer om op hierdie manier te kon dien.”

Hy het die hoogste lof vir die res van die span wat saam met hom in George gaan help het. “Hierdie manne is geharde, veteraan-brandbestryders. Hulle sal die hoogste prys vir die mensdom betaal, sonder om ’n woord te vra oor wie die slagoffer is of wat sy godsdiens, ras, of enigiets is.”

Die ander dapperes wat Pretorius prys, is Adeeb Ismail, Ian Otto, Warren (Flippie) Phillips en Charlton (Charlie) Schroeder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article