Tyreek Williams is Maandagoggend in ’n botsing op die N1 dood. Saam met hom op die foto is Kayla August, sy vriendin van die afgelope vier jaar. Foto:


Die lewe van ’n 22-jarige man is Maandagoggend skielik op die N1 by Worcester kortgeknip.

Die afleweringsvragmotor waarin die oorledene, Tyreek Williams ’n passasier was, het om 07:50 reg van agter teen ’n groter vragmotor by die Rouxweg-aansluiting op die N1 gebots.

“Die passasier is op die toneel dood. Die bestuurder van die vragmotor is met verskeie beserings na ’n nabye hospitaal geneem nadat hy uit die wrak gesny moes word,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Williams se vriendin van die afgelope vier jaar, Kayla August, het Maandag haar diepe hartseer oor sy dood op haar Facebook-blad gedeel.

“Tyreek, ek kan nie deal met die pyn nie. Ek kan nie slaap nie, dié raak nou te veel vir my. Soos ek in jou kamer nou sit, wens ek dat jy kan instap en sê Kayla, skrik wakker – dit was net ’n droom. Kan nie meer nie; ek gee op – die pyn is te veel,” lui die inskrywing.

August was by die skool toe sy van Williams se dood in kennis getel is.

“Ek het net die inskrywing op Facebook oor die ongeluk gesien, toe bel sy ma my twee minute later. Dit was ’n groot skok,” het sy Dinsdag snikkend aan Standard gesê.

Sy is tans ’n graad 12-leerder by WSS en die twee het al hul toekoms saam begin beplan.

August sê sy gaan Williams se glimlag verskriklik baie mis.

“Ek gaan beslis sy glimlag mis. En alles wat hy vir my gedoen het en beteken het.

“Hy het my altyd bemoedig en gesê om deur te druk.

“Ek het alles met hom gedeel. Nou is hy weg. Met wie gaan ek nou my pyn deel?

“Met wie gaan ek nou oor alles praat?”

Sy meen ook Williams was nie soos die meeste “gewone mans” daarbuite nie.

“Hy het net ’n ander manier gehad van dinge doen. Hy was nie soos die ander outjies nie. Hy het my altyd laat lag.” . ’n Begrafnisdiens word vir Saterdag 13 Mei beplan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article