Haydar Khan het SA kleure in binnenshuise krieket verwerf.

Alhoewel hy sowat vyf jaar gelede binnenshuise krieket begin speel het, het hy die sport eers verlede jaar ernstig begin opneem – soveel so dat hy SA-kleure verwerf het.

Dit is die suksesverhaal van die 21-jarige Haydar Khan van Van Riebeeckpark in Worcester.

Khan is geen onbekende in die krieketwêreld nie.

Volgens hom het hy as kind vir jare eers tradisionele buitelug-krieket gespeel.

Dié kranige sportman het al in al wat Bolandspan is gespeel – van o.11 tot o.19.

In 2023 op die ouderdom van 19-jaar het hy onder die Lahore Qalanders in Pakistan buitelug-krieket gespeel.

Khan was in daardie stadium deel van hul hoëwerkverrigtingkamp wat vier maande geduur het.

“Die grootste wedstryd wat ek daar gespeel het, was teen Pakistan se Nasionale Akademie-span.”

Volgens Khan – wat sopas teruggekeer het van ‘n SA Binnenshuisekrieket-kustoer – het sy belangstelling in binnenshuise krieket gekom toe die Worcester Cricket Academy in Breëriviersingel kort ná die Covid 19-pandemie geopen het.

“Die oomblik toe hierdie binnenshuise krieketfasiliteit in Worcester oopmaak, was daar baie belangstelling in die sport.

“As dit nie vir hierdie arena was nie, sou ek nooit in binnenshuise krieket belang gestel het nie.”

Volgens Khan is binnenshuise krieket ‘n baie veeleisende en intense sport.

“Ek sou sê dis ‘n baie intimiderende sport, want dit word baie vinniger gespeel as tradisionele buitelug-krieket.

“Omdat die tempo van die spel so vinnig is, het jy baie min ruimte vir foute begaan, wat beteken dat die druk voortdurend op jou as speler is.”

Khan sê dit is vir hom ‘n eer om SA kleure te verwerf. Volgens hom het hy dit “nie eintlik verwag nie”.

Hierdie jong man dink groot, want tans werk hy hard vir ‘n plek in die Wêreldbeker-binnenshuise kriekettoernooi-span.

Die groot toernooi vind volgende jaar plaas. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article