’n Jong man is Donderdag (1 Desember) noodlottig gewond toe hy by ’n skietery betrokke was.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, het die polisie om 21:31 ’n klag oor die skietery in Tinktinkstraat, Avianpark ontvang.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle ’n 21-jarige man, wat op die grond op sy maag lê, met ’n koeëlwond aan die regterkant van sy kop, in ’n erf by een van die huise aangetref,” het Jacobs gesê.
Volgens ’n getuie was die skietvoorval tydens beurtkrag op die betrokke aand.
“Terwyl die getuie binne die huis was, het hy gehoor iemand spring oor die omheining. Daarna het hy ’n vuurwapenskoot gehoor en toe deur die venster gekyk. Hy het gesien hoe ’n man met ’n swart en wit hempie en ’n vuurwapen in die hand oor die omheining spring na die straat toe.
“Die getuie het toe uitgegaan om te kyk wat gebeur het en het die man op die grond sien lê met ’n skietwond in die kop. Hy het onmiddellik die polisie ontbied.”
Volgens betroubare inligting wat Standard bekom het, het die oorledene, die 21-jarige Jadian Plaatjies, saam met vriende buite gesit toe twee mans hulle nader.
Terwyl hulle glo nog gesels het, het een van die mans ’n vuurwapen uitgehaal en op hom geskiet. Hy het oor ’n heining gespring, maar die skieter het nog ’n skoot afgevuur.
Niemand is nog in verband met die noodlottige skietery in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur steeds voort.



