Jayden en sy hond, Lady, is deel van die dokumentêr, Maak stil die geblaf. Foto:


’n Dokumentêr wat ’n groep kinders en hul honde in De Doorns volg, sal by die Silwerskermfees gewys word.

Maak
stil die geblaf, met regie deur Marisa van Tonder, draai om ’n groepie elfjarige kinders en hul honde.

Namate dié kinders van ’n plaasgemeenskap in De Doorns vir Tiger, Fluffy, Sussa en Lady leer hoe om oor hekkies te spring en deur tonnels te kruip, word die kinders ook wys oor die lewe.

’n Deernis vir diere ontwikkel by die groep terwyl hulle ook hul eie stemme vind en ’n pad vorentoe probeer uitkerf.

Marisa, ook die dokumentêr se vervaardiger, vertel sy het in 2019 met Sidewalk Specials en The Underdog-projek, wat deernisklasse teenoor diere aanbied, begin saamwerk.

Marletha Hanekom van Worcester het mettertyd die klasse oorgeneem.

Toe kortwiek die pandemie die projek in 2020, ’n nuwe babatjie het opgedaag en Marisa se betrokkenheid by die projek het vir eers tot stilstand gekom – tot haar pa haar later van die een of ander rolprentkompetisie vertel en haar aangemoedig het om in te skryf.

Dit was natuurlik die Silwerskermfees.

“Dit was die heelal se boodskap aan my om buite my gemaksone te beweeg,” en so het Maak stil die geblaf as ’n dokumentêre inskrywing by vanjaar se Silwerskermfees beland.

In haar kreatiewe wêreld fokus Marisa op projekte wat ’n verskil in die wêreld kan maak. Sy was egter nie voorbereid op hoe oorrompelend die kinders sou wees wat sy en haar man, Jacques (wat die kinematografie behartig het), op die plaas Mon Repos sou aantref nie.

Marisa het ’n paar vrae oor die projek beantwoord.

Wat het jou gemotiveer om hierdie projek aan te pak?

“Ek is baie lief vir diere – hulle is my nommer een!

“Met die maak van ’n dokumentêr is daar altyd die idee dat slegte nuus gedeel moet word om die boodskap oor te dra.

“Maar ek kan nie wreedheid wys nie. Dis ontstellend.

“ ’n Rolprent kan tog ook ’n manier wees waardeur jy die goeie kant wys.

“Ek het nie beplan om die hondeklasse af te neem nie, maar toe’s die kinders so oulik – en entoesiasties. Hulle kán ’n cause aanneem. Kinders voel hulle het iets bereik as hulle ’n hond iets kan leer. Self leer hulle geduld. Iets gebeur met kinders wanneer hulle met honde werk – en dís iets wat hulle lewenslank sal bybly.

“Deur hierdie projek leer die kinders hulle het ’n stem – en hoe om dit te gebruik. Hulle het die mag om ’n verskil te maak.”

Hoe maklik was dit om toegang tot die kinders en hul honde te kry? Moes jy tyd bestee om vertroue te vestig?

Ons het in 2019 met die hondeklasse by De Doorns se laerskool begin. Die skoolhoof het onmiddellik afgekondig dat kinders met honde wat sou belangstel, na sy kantoor moet kom.

“Een van die kinders was Calvin Moses (toe 12) wat met Tiger na die hondeklasse gekom het. Tiger was nie eens sy hond nie; hy het hom by die buurman geleen!

“Met ons terugkeer einde verlede jaar was die kinders skamerig. Die “juffrou-kind”-gevoel was aanvanklik ook daar. Maar daar was Tiger, ’n regte kwaadstoker – vuil, vol bosluise . . . én die een wat die plaas regeer. Wat die kinders nie geweet het nie, was dat Tiger vroeër reeds geleer het om te sit en te lê, en toe hy die bevele gehoorsaam, was dit asof iemand towerkrag oor die kinders uitgeoefen het. Toe het almal heeltemal ingekoop!”

Wat het vir jou spesifiek uitgestaan as ’n hoogtepunt van hierdie spesiale projek? Of verras?

“Dit was verbasend hoe maklik alles reggekom het.”

Wat is die boodskap wat jy graag by kykers wil tuisbring?

“Daar lê ongelooflik baie mag in deernis. Dit het baie uitdagings, maar daar is ook baie oplossings, soos om in te gryp en ’n liefde en deernis by kinders te kweek voordat hulle die ouderdom bereik waar wreedheid die kop uitsteek.

Blootstelling aan geweld aktiveer die vlug-of-veg-instink in jou brein. Die Waves for Change-organisasie in Muizenberg span branderplankry daarteen in, en die oomblik wanneer jy in die water is, word dié twee instinkte geneutraliseer. As jy aan ’n dier raak, ontlok dit dieselfde reaksie.”

Wat hoop jy om te sien gebeur met die spannetjie van De Doorns?

“Ek hoop die kinders sal self leiers raak – leiers in hul eie ouderdomsgroepe. Calvin, wat ouer as die ander kinders is, is ’n perfekte voorbeeld. Hy is nou te oud vir die groep, maar doen uitstekende werk as ’n vrywilliger.”

Wat is die beste raad wat jy van iemand gekry het met die vervaardiging van dié dokumentêr?

“My mentor, Nadine Cloete, het deurentyd gesê ek moet rustiger wees. Sy wou hê dat ons sien hoe die kinders stap en hoe hulle speel; om nie teen hoë spoed op die oomblik te fokus nie.”

Wat was die reaksie van die gemeenskap terwyl julle met die produksie besig was?

“Die ouers was lieflik.

“Deur die klasse en die rolprent te kombineer, was hulle veral gelukkig dat hul kinders veilig is. Sowat 90% van die ouers het ook die kompetisie op Stellenbosch bygewoon en hulle was so trots op hul kinders.”

Jou groot wens?

“ ’n Baie groot storie skuil agter hierdie storie. Ek sal graag eendag ’n vollengte rolprent daaroor wil maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article