Van die kinders na wie Jamaine Geduld deur middel van Youth Stars omsien. Foto:


Sy het haar lewe daaraan toegewy om haar seun met serebrale gestremdheid te help, en toe besef sy sy wou ander in haar gemeenskap, wat in ’n soortgelyke situasie is, help.

Jamaine Geduld het voltyds gewerk voordat haar seun in 2017 gebore is.

“Serebrale gestremdheid is by hom gediagnoseer toe hy sewe maande oud was. Ek het later by my werk bedank om voltyds na hom om te sien. Ek het self sy spraakterapie, sy opvoeding en alles anders wat hy benodig, gegee. Ek het hom selfs geleer loop nadat die dokter gesê het hy het ’n rolstoel nodig.”

Sy het toe begin oplet hoeveel ander ma’s en kinders in haar gemeenskap kan baat vind by die kennis wat sy opgebou het.

“My hele wêreld het rondom my seun gedraai. Maar later het ek besef daar is mense daar buite met groter probleme. Ek het toe op die gemeenskap rondom my begin fokus. As mense vorms moes invul, of briewe gehad het wat gestuur moes word, of as hulle afdrukke nodig gehad het, het ek hulle gehelp.

“Maar die grootse ding wat my aandag getrek het, was die hoeveelheid kinders wat op straathoeke staan of buite moet slaap.”

Sy het in Mei 2023 ernstig op gemeenskapswerk begin fokus.

“En in Julie verlede jaar het ons die organisasie Youth Stars geregistreer. Vir nou is ons hooffokus die voedingskema, maar ons help ook die jeug deur middel van verskeie programme en ek stap saam met hulle om vir hulle werk te gaan soek.

“Ons het verlede Vrydag met die hulp van ’n ander plaaslike organisasie, die Lwazi Enrichment Project, agt kinders na die Weskus gestuur, waar hulle by die kollege daar gaan studeer.”

Die organisasie fokus meestal op Roodewal.

“Maar ek gaan soek soms in ander dele van die dorp kinders wat ook hulp nodig het. Ek het tans 48 kinders op wie ek fokus.”

Geduld doen so ver as moontlik alles uit haar eie sak. “Eintlik is dit uit my man se sak omdat ek nie werk nie. Maar hy help altyd.”

Die voedingskema word op 9 Februarie hervat.

“In die verlede het ons dit net een dag ’n week gedoen, maar die doel is om dit van nou af twee dae per week te doen. Ons gaan ook naskoolse klasse begin aanbied waar kinders hul huiswerk kan gaan doen en waar iemand hulle kan help. Dan gaan ons ook binnekort sport begin aanbied, waar die kinders elke naweek aan sportaktiwiteite kan deelneem,” verduidelik sy.

Haar groot droom is egter om eendag –binne die volgende vyf jaar – hul eie gebou of perseel te hê.

“Al is dit net containers wat ons êrens op ’n vlakte kan opsit. Ek wil net ’n plek hê waarheen die kinders kan kom – ’n plek waar ons aktiwiteite, huiswerk-klasse en sport vir hulle kan aanbied.”. Bel Jamaine Geduld by 078 137 992 vir nog inligting of om ’n skenking aan Youth Stars te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article