Inwoners in Worcester kla dat rook van brande onuithoudbaar is

Veld fire
Inwoners kla dat die rook van brande hul pla.

Die reuk van rook wat hul kele brand en roet wat deur hul huise trek ontstel inwoners in veral Avianpark, Riverview en Victoria-park in Worcester.

Brande wat in die oop veld, by die stortingsterrein en in die mees onlangse geval by die watersuiwe-ringswerke uitgebreek het, is die oorsaak.

Inwoners het verlede week gekla die rook was so erg – hulle het selfs snags daarvan wakker geword en hul huise stink dae lank daarna nog.

Kirsten Kock, ‘n gemeenskapsaktivis en ook betrokke by Breedevallei Onafhanklik, sê hulle het vyf jaar gelede al kapsie gemaak en selfs in die hooggeregshof gaan draai in hul aksie teen die streekvullisterrein wat langs die Breedevallei-munisipaliteit se bestaande terrein gebou is. Hulle was bekommerd dat dit ‘n groter probleem sou skep, omdat die brande op die ou vullisterrein gereeld voorgekom het en die woonbuurte daar naby elke keer toe was onder die rook.

Sy het gesê die vullisterrein behoort in die eerste plek nie so naby aan woongebiede te wees nie en mense moet besef wat die implikasies van só ‘n besluit is.

“Wanneer dit brand, waai die wind uit die suidooste die rook reg in die woonbuurte in.”

Kock het gesê die munisipaliteit is daarvoor verantwoordelik om sy omgewingsbestuurplanne toe te pas om dié brande te verhoed.

Hannelie Botha, ‘n woordvoerder vir die Breedevallei-munisipaliteit, het gesê die onlangse brand op 25 November het in een van die onderhoudspoele by die munisipale watersuiweringsaanleg ontstaan. “Die brand was tot slegs die een dam beperk en is op dieselfde dag geblus. Teen 27 November het niks meer gesmeul nie. Hierdie damme is vol groen en dooie riete en wanneer dit brand, veroorsaak dit digte swart rook. Wanneer dit geblus is, smeul die riete en uitgedroogte slyk wat bo-op die water dryf en veroorsaak ‘n skerp reuk. Dit is moeilik om die brande te bestry omdat die nat slyk, wat nog in die poele dryf, dit moeilik maak om by die brandende slyk uit te kom,” het sy verduidelik.

Volgens haar is die oorsaak van die brand nog nie bepaal nie. “Die enigste manier om só ‘n brand te verhoed, is om die riete kort gesny te hou.”

Botha het gesê brande in riverbeddings, damme en vleigebiede is moeilik om te beheer omdat brandbestryders dit moeilik kan bereik. “Gewoonlik – as so ‘n brand in ‘n rivierbedding is – word dit dopgehou totdat dit self uitgebrand het. Die probleem by die watersuiweringswerke is dat dit naby aan die woongebiede is en daarom maak die brandweer gebruik van hoëvolume-waterkanonne om die moeilik bereikbare dele te blus. Hierdie

brande neem langer om te blus en groot hoeveelhede skoon water word op die vuur uitgespuit.”

Brande by die stortingsterrein blyk ook moeilik wees om te blus. By navraag of die nuwe stortingsterrein minder brande sal beteken, het sy gesê daar is brande wat op die oppervlak is en ander wat onder die oppervlak is.

“Brande onder die oppervlak is nie baie algemeen nie en is gewoonlik die gevolg van spontane verbranding wanneer die materiaal wat bedek is, na­tuurlik ontbind. Dié brande moet met gespesialiseerde toerusting uitgegrawe word voordat dit geblus kan word.

“Oppervlakbrande ontstaan gewoonlik wanneer afvalmateriaal nie gekompakteer is of met dekmateriaal toegemaak is nie. Die dekmateriaal verhoed kontak met die lug en die vullis brand dus nie maklik nie. Die vullis by die BVM-vullisterrein word gereeld toegemaak, wat help om brande te beperk. Brandstigting en vullishouers (skips) wat aan die brand gesteek word en die smeulende materiaal wat dan op die vullisterrein beland, is meestal die oorsaak van die brande.” Sy het gesê dié brande kan egter vinnig in bedwang gebring word. “Die stortingsterrein word goed bestuur, wat groot, onbeheerbare brande verhinder.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article