Met die prys van brandstof, kos en ander produkte wat aanhou opwaarts kruip, is die groot verandering in eiendomswaardasies vir baie inwoners in die Langeberg net nog ‘n bitter pil om te sluk.

Die waardasierol was van 9 Februarie tot 10 April af vir openbare insae beskikbaar en vir inwoners om besware aan te teken indien hulle nie met die waardasie van hul eiendom saamstem nie. Hierdie waardasies sal van 1 Julie vanjaar tot 30 Junie 2031 geld en ‘n uitwerking hê op hoeveel eiendomsbelasting inwoners moet betaal.

Volgens Pieter Sieberts, die voorsitter van die Robertson-sakekamer, wys hul berekeninge dat die algehele belasting wat die munisipaliteit gaan hef, met sowat 47% gaan styg. Dit sluit die tariefstyging van 3,7% in. “Ons hoor van waardasies van 80% minder tot 400% meer. Dit laat ons met vrae oor die proses en dit lyk vir die publiek en sakelui of foute gemaak is,” het hy gesê.

Proses moet hersien word

Johnny Steenkamp, ‘n VF Plus-raadslid, het in ‘n verklaring gesê die VF Plus het die Langeberg-munisipaliteit versoek om die jongste munisipale eiendomswaardasieproses vir die dorpe Ashton, Robertson, Montagu en Bonnie­vale te hersien en ‘n nuwe waardasierol uit te reik.

“Hierdie waardasierol, wat vir die vyfjaar-tydperk van 1 Julie 2026 tot 30 Junie 2031 geldig sal wees, gaan mank aan ernstige prosedurele ge­breke,” het hy gesê. Dié probleme is tydens ‘n raadsvergadering uitgewys.

“Talle inwoners het geen amptelike kennisgewings ontvang dat die rol ter insae lê nie. Dit het tot gevolg gehad dat die tydperk vir besware reeds op 10 April 2026 gesluit het sonder dat die publiek ‘n regverdige kans gegun is om die waardasies te betwis.

“Hoewel die munisipaliteit aanvoer dat die maatskappy wat met die waardasies handel 22 000 van die 27 000 ­huishou­dings besoek het, het die meeste inwo­ners aangedui niemand het hul eiendom besoek nie. Plaaseienaars is dit ook eens dat hulle geen besoek rakende waardasies ontvang het of dat enige reëlings vir besoeke getref is nie,” het hy gesê.

Steenkamp voer aan die nuwe waardasies het ‘n gemiddelde afwyking van 50% op die vorige waardasierol. “ ’n Foutiewe waardasierol hou groot implikasies in vir inwoners en die munisipaliteit self. ‘n Oorverhaling weens buitensporige waardasies hou enorme onkostes vir huishoudings, fabrieke en die landboubedryf in. Onderverhaling kan weer ‘n negatiewe invloed op die munisipaliteit se geldvloei hê. Verder hou dit ook uitgebreide probleme in vir eienaars wat hul eiendomme wil verkoop,” het hy gesê. “Geen bevredigende antwoorde hieroor kon in die raadsvergadering verskaf word nie. Die finansiële hoof het wel erken dat pro­bleme ervaar word.”

Die party het die munisipaliteit versoek om die proses te hersien en die beswaartydperk te heropen sodat ‘n “deursigtige en wetlik korrekte waardasierol” uitgereik kan word.

Sakeondernemings en landbou

Sieberts sê die sakekamer en landbou-vereniging het onlangs met Agri Wes-Kaap vergader om die kwessie met die munisipaliteit te bespreek. “Uit die sakekamer se oogpunt is ons baie bekommerd oor die uitwerking wat dié styging op ondernemings gaan hê. Landbou gaan ook daardeur geraak word.”

Mossie Mostert, ‘n afgetrede sakeman van Robertson, het in ‘n brief aan die munisipaliteit geskryf dat die belasting­tarief, wat met 3,7% styg, baie misleidend is. “As in ag geneem word dat wooneiendomme se waardasie met nage­noeg 35% opwaarts waardeer is, kom dit op ‘n effektiewe styging van nagenoeg 40% neer – in my geval nagenoeg R5 300 per jaar meer. Vir die munisipaliteit beteken dit miljoene meer aan inkomste en ‘n styging van 47% in begrote eiendomsbelasting.

“Normaalweg as eiendomswaardasies so drasties verhoog, word die tarief afwaarts aangepas, maar nie dié keer nie. As na die state van 30 Junie 2025 gekyk word waar nage­noeg R143 miljoen se elektrisiteitsinkomste verlore geraak het (teenoor slegs R39 miljoen die vorige jaar), moet dit nie nou van die belas- tingbetaler verhaal word nie. Ek het dit nêrens teëgekom waar die huidige raad enige amptenare hiervoor genoegsaam aanspreeklik gehou het nie.”

Jakkie Burger, die voorsitter van Afriforum in die Langeberg, sê inwoners is gefrustreerd omdat gereelde foute op rekeninge verskyn. “Dit lyk asof geen politieke wil bestaan om foute reg te stel nie. Mense sê hulle kla nie meer nie, want hulle ontvang geen reaksie nie.”

Navrae is aan die Langeberg-munisipaliteit gerig oor inwoners se vrae.

In ‘n antwoord het Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder, gesê dat die maatskappy Qhawekazi Global, wat as Suid Kaap Waardeerders handel dryf, aangestel is om die waardasierol op te stel.

“Die waardasierol is saamgestel nadat ‘n gestruktureerde wetlike proses gevolg is, wat die aanstelling van ‘n professionele waardeerder, data-verifikasie, markverwante-analise en ‘n openbare deelname-fase ingesluit het.

“In lyn met die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting (wet nr. 6 van 2004), is eiendomswaardes bepaal deur faktore soos die grootte, ligging, sonering, grondgebruik en verbeteringe, sowel as algemene markneigings en vergelykbare verkope in die Langeberg munisipale gebied, in ag te neem.” Hy het gesê dat veranderinge in marktoestande veroorsaak dat die eiendomswaardasies mag verskil van voriges, aangesien dit gebaseer is op opgedateerde mark-verwante data.

“Die waardasie-proses speel ‘n belangrike rol om te verseker dat daar ‘n billike verspreiding van die las van munisipale tariewe inr die gemeenskap is.”

Die waardasierol was beskikbaar aan die publiek vanaf 9 Februarie tot 10 April, waarna eienaars besware kon indien. “Die munisipaliteit moedig inwoners aan om deel te neem aan die voortdurende openbare deelname in wetlike prosesse, omdat hierdie wisselwerkings deursigtigheid, aanspreeklikheid en regverdigtheid in die munisipale waardasiestelsel verseker,” het Lubbe gesê.

Die munisipaliteit het nie geantwoord op vrae oor die hoeveelheid besware, die hoeveelheid eiendomme wat die waardeerders besoek het en bewerings dat die waardasierol ‘n aansienlike afwyking het teenoor die vorige tydperk s’n nie..

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article