Mite: As jy gereeld oogoefeninge doen, sal jy nie so gou ’n bril nodig hê nie.

Feit: Oogoefeninge verbeter of bewaar nie sig nie en verminder ook nie die noodsaaklikheid van ’n bril nie. ’n Mens se sig hang af van verskeie faktore, onder meer die vorm van die oogbal en die gesondheid van die oogweefsel. Geeneen van dié faktore kan veel verander word deur oogoefeninge nie.

Mite: Om by dowwe lig te lees, sal jou sig verswak.

Feit: Dowwe lig beskadig nie jou sig nie. Dit sal egter jou oë vinniger moeg maak.

’n Leeslig moet ideaal direk op die bladsy skyn, nie oor jou skouer nie. Die beste opsie is ’n lessenaarlamp met ’n ondeurskynende skerm wat direk op die leesmateriaal skyn.

Mite: Wortels is die beste kos vir jou oë.

Feit: Wortels, wat vitamien A bevat, is goed vir ’n mens se oë. Vars vrugte en donkergroen blaargroente, wat meer antioksidante soos vitamiene C en E bevat, is selfs beter.

Antioksidante kan ook help om die oë teen katarakte en ouderdomsverwante makulêre degenerasie te beskerm.

Dit kan egter nie basiese sigprobleme soos by- of versiendheid regstel of voorkom nie.

Mite: ’n Bril of kontaklense moet liefs nie die heeltyd gedra word nie. Deur dit soms nie te dra nie kry jou oë kans om te rus.

Feit: As jy ’n bril of kontaklense nodig het om te lees of op ’n afstand te sien, gebruik dit.

As jy nie jou bril dra nie, plaas jy spanning op jou oë en word dit moeg eerder as wat dit rus. Dit sal egter nie jou sig verswak of tot oogsiekte lei nie.

Mite: Om heeldag na ’n rekenaarskerm te staar, is sleg vir jou oë.

Feit: Om ’n rekenaar te gebruik, beskadig nie jou oë nie, maar om heeldag na ’n rekenaarskerm te staar, kan spanning op jou oë plaas of dit moeg maak. Mense wat lank na ’n rekenaarskerm staar, is geneig om nie hul oë so gereeld soos gewoonlik te knip nie. Die oë kan gevolglik droog en ongemaklik voel.

Voorkom spanning op jou oë deur die lig te verstel sodat dit nie ’n fel lig of skerp weerkaatsing op die skerm maak nie. Laat rus jou oë elke 20 minute en wend bewustelik ’n poging aan om jou oë gereeld te knip.

Harvard Healthbeat

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article