Winetech en Vinpro bring die nuutste wynbedryf- en wingerdkundige tendense en navorsing op 10 Mei na die Breedevallei- en Robertson-streek op streekinligtingsdae.

“Hierdie oggendsessies in die streek bied die ideale geleentheid vir wyndruifprodusente, kelderverteenwoordigers, wingerdboukundiges en ander belangegroepe in die wynbedryf om hulself met kennis toe te rus vir die jaar vorentoe,” sê Conrad Schutte, Vinpro-konsultasiediensbestuurder.

Die tema is “Hoe kan die Suid-Afrikaanse wynbedryf vorentoe bons gegewe die huidige handelsomgewing?” Vinpro-kundiges Conrad Schutte, Christo Conradie en Pierre-André Rabie gaan ’n oorsig gee oor die bedryf se vernaamste uitdagings, geleenthede en die pad vorentoe.

Van daar beweeg die aanbieders plaasvlak toe met ’n tydgleuf relevant tot die streek, onder meer die bestuur van swamsiektes, spesifiek witroes en donsskimmel, asook verbruikersgerigte wynproduksie.

Emma Carkeek van die Gen-Z-wingerdprojek gaan die vordering en bevindinge van wingerddemonstrasies deel en Lucinda Heyns van Winetech gaan ’n oorsig gee oor navorsingsprojekte en -aktiwiteite waarmee dié bedryfsorganisasie tans besig is.

“Ons is ook opgewonde daaroor om ’n splinternuwe boek deur die befaamde navorser dr. Johan Fourie, Cover crops in South African Vineyards, op die streekinligtingsdag bekend te stel,” sê Lucinda. Elkeen wat die inligtingsdag bywoon, ontvang ’n gratis eksemplaar van die boek wat moontlik gemaak is deur die SA Tafeldruifbedryf (Sati), Winetech en Villa.


V Plaaslik vind die dae op 10 Mei in Worcester / Breedekloof plaas en 11 Mei in die Robertson / Klein Karoo-streek. Registreer by sales.vinpro.co.za/ of kontak Lesley Paulse by 021 276 0432, lesley@vinpro.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article