Inligtingsborde vertel die storie van Worcester se ou tronk

Die bekendstelling van die inligtingsborde is deur die raadslid Julian Kritzinger, die burgemeester Antoinette Steyn, Stephne Botha van Innovation for the Blind, Annalize Thiart, Elouise Meyer en Suzanne Scholtz van Worcester-toerisme en Salomie Lombaard van Shalom Designs bygewoon.

Inwoners wat al aan ‘n warm koppie koffie geteug en gewonder het oor die geskiedenis wat in die mure van die Ou Tronk in Worcester opgesluit is – waar die Anna Beleef-restaurant geleë is – hoef nie langer te wonder nie.

Inligtingsborde met die geskiedenis van hierdie gebou en ander geskiedkundige geboue in die omgewing is Maandag (26 Mei) by die restaurant aangebring. Die gebou is na raming 280 jaar oud en is die oudste in die dorp.

Annalize Thiart, die eienaar van die restaurant in Distilleryweg, het soveel navrae oor die geskiedenis gekry dat sy besluit het om die inligting vir besoekers makliker toeganklik te maak.

Sy het gaan aanklop by dr. Julian Kritzinger, wat ‘n groot passie vir plaaslike geskiedenis het en dit al 30 jaar versamel. Hy het die inligting chronologies uiteengesit en navorsing gedoen om die gapings te vul.

Die inligting gee die geskiedenis in ‘n neutedop, maar meer besonderhede is op die inligtings-

kaarte te lese.

Die Ou Tronk was eers die ou wynkelder van die oorspronklike leningsplaas, “De Langerug-gelegen-over-de-Breede-Rivier” wat op 9 Maart 1754 aan Gerrit Cloete (1717 tot 1798) uitgereik is. Die presiese datum waarop die gebou opgerig is, is onbekend, maar dit is vermoedelik kort ná 1754.

Die plaas is later deur die Kaapse koloniale regering uit- gekoop sodat Worcester daarop uitgelê kan word.

Die woonhuis is as die woningvan Worcester se eerste adjunk- landdros, Jacob Frederik van de Graaff, ingespan en die wynkelder is in 1821 as tronk ingerig.

Misdadigers wat by die Drostdy gevonnis is, is hier aangehou.

‘n Nuwe tronk is in 1893 gebou en die Ou Tronk was ‘n buitegebou op “Het Boeren Zending Instituut” se grond – die voorloper van HTS Drostdy. Die gebou het van 1910 tot 1971 as die skoukantoor van die Worcester-landbougenootskap gedien en van 1943 tot 1946 as die kantoor van die Italiaanse krygsgevangenekamp.

Die Instituut vir Blindes het die ou Worcester-skouterrein, waarop die Ou Tronk was, in 1970 gekoop en die gebou is gerestoureer.

Dit is in 1978 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die huidige restaurant het sy deure in 2023 geopen.

Die Ou Tronk is die oudste gebou in Worcester en staan reeds 280 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article