Die voor- en na-foto van ’n soortgelyke projek waarby ABC betrokke was, ook langs die Breërivier. Die indringerbome word verwyder om die terrein met sy oorspronklike fynbos te rehabiliteer.


Die meeste mense dink dis verkeerd om bome af te saag, maar ’n maatskappy in die dorp bewys met sy projekte dat hy juis daardeur die omgewing red.

Africa Biomass Company (ABC) is nou besig met ’n projek wat miljoene liter water sal bespaar.

ABC is tans betrokke by ’n projek langs die Breërivier – van Nekkies tot by die Hexrivier – om indringerbome te verwyder om sodoende meer water vry te stel.

Willem van der Merwe, een van die direkteure van die maatskappy, sê die projek is per tender aan ABC toegeken.

“Die departement van omgewingsake onderneem sedert 2013-’14 dat indringerplantegroei op ’n manier die hoof gebied moet word. Die departement het beginprojekte beplan, waarby ons van die begin af betrokke was en steeds is,” sê Van der Merwe.

Hy sê die projek is in November verlede jaar van stapel gestuur en moet teen Mei vanjaar afgehandel wees. ABC gaan sowat 54 hektaar skoonmaak.

Die projek sluit die afsaag en verwydering van indringerbome teen die Breërivier in en sal sowat 15 000 ton hout lewer, wat in die landbou as deklaag gebruik sal word, of in die plaaslike ekonomie as biobrandstof.

Hy sê die projek het werk vir 30 mense vir ses maande geskep en rehabiliteer terselfdertyd die terrein vir die hervestiging van die Wes-Kaapse fynbos.

“Die omgewingsimpak van die projek stel meer as 100 miljoen liter water per jaar in die rivier vry. Dit is genoeg om 540 huishoudings van water te voorsien” sê hy.

Van der Merwe sê met die projek hervestig ABC nie net die natuur nie, maar skep hy ook werk en help sodoende die omgewing om water te bespaar.

Volgens Van der Merwe spesialiseer ABC in die herwinning van afvalhout, asook die verskaffing van toerusting om afvalhout te herwin.

Die onderneming bestaan reeds 18 jaar en het tans 170 werknemers.

Van der Merwe sê ABC het destyds met vyf werknemers begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article