MONTAGU. – Diewe het die laaste week van Oktober by die Spring Roses Dienssentrum, ’n klub vir ouer mense, in Wilhelm Thyslaan ingebreek en verskeie produkte, eiendom en noodsaaklike benodigdhede gesteel.
Dit was die tweede keer dat die vergaderplek van sommige van dié mees kwesbare mense in die gemeenskap ten prooi van gewetenlose misdadigers val.
Die booswigte het toegang tot die gebou, wat die ouer mense al vir baie jare huur, verkry deur die traliewerk voor die deur oop te dwing asook die slotte van sowel die buite- en binnedeur af te breek.
“Die inbreker of inbrekers het ’n 9-kg-gaskan, wat net die dag voor die inbraak hervul is, tesame met die reguleerder en toevoerpyp gesteel.
“Gevolglik kan ons nie die gasstoof gebruik nie.
“Tans leen ons dié noodsaaklike toebehore by een van ons lede,” sê Cheronica du Preez, voorsitter van die Spring Roses-klub vir ouer mense.
Die diewe is ook met kruideniersware, soos blikkies kos, botter, koffie, tee, hoendervleis en vele meer, vort.
Die klub se klankversterker met ’n verlengkoord en al het ook voete gekry, vertel ’n ontstelde Du Preez.
Volgens Du Preez is die misdaad by die plaaslike polisie aangemeld, maar ná die aanvanklike ondersoek is die saak afgesluit totdat nuwe inligting aan die lig kom.
Du Preez wil die publiek se aandag daarop vestig indien hulle in besit is van die gesteelde eiendom, hulle hulself aan moontlike vervolging blootstel.
Die bejaardeklub is ’n nie-winsgewende organisasie en is grootliks afhanklik van skenkings.
Enige barmhartige Samaritane in die gemeenskap, wat dalk ’n bydrae van watter aard ook al aan die bejaardeklub wil doen, word versoek om Du Preez by 083 491 2679 te kontak.




