Dis net samaritane met harte propvol deernis wat nie anderpad kyk wanneer ’n medemens in nood verkeer nie.

Só kan gesê word van Suid-Afrika se grootste hulpverle­ningsorgani­sasie, Gift of the Givers, en die plaaslike nie-regeringsorganisasie, Compassionate Hearts. Hulle het vanjaar vir ’n tweede keer hul hulpbronne gratis beskikbaar gestel om na die mediese behoeftes van sowat 1 500 inwoners (sommige van Laingsburg en Matjiesfontein) om te sien. ’n Lang ry mense – sommige in rolstoele en wat nie die gerief van ’n siekefonds of kontant het nie, het Saterdag (17 September) van vroegoggend af geduldig voor die hek van die Laerskool Touwsrivier gewag totdat beurtkrag om 08:30 verby was. Sowat 50 mediese personeellede van Gift of the Givers het toe na hul mediese kwale omgesien.

Die Laerskool Touwsrivier was ’n miernes toe die skoolsaal en ’n klomp klaskamers in ’n mediese sentrum omskep is sodat behoeftiges dienste soos tandheelkunde, oogheelkunde, fisioterapie, ginekologie asook algemene gesondheidsdienste kon ontvang.

Rashaad Baker, ’n stigterslid van Compassionate Hearts, verduidelik dat dié projek gebore is uit die gemeenskap se mediese nood. “Inwoners se gesondheid kwyn weens die afwesigheid van broodnodige mediese dienste wat nie by die plaaslike kliniek beskikbaar is nie. Hier is nie ’n staatshospitaal waar mense kan gaan toustaan om gespesialiseerde dienste soos katarakverwydering te ontvang nie. Dis hoekom Gift of the Givers ingestem het om gratis mediese dienste aan die gemeenskap te lewer.”

Die operasie se sukses was ook afhanklik van ander instansies wat bygedra het om die goeie saak te ondersteun. Europcar het sewe busse geskenk om die mediese personeel na die dorp te vervoer en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se fakulteit van gemeenskap-en- gesondheidsdienste het gratis beddens en afskortings vir pasiënte se privaatheid voorsien.

Baker en Dalene van der Merwe, aangevuur deur ’n passie vir gemeenskapswerk, het twee jaar gelede die nie-regeringsorganisasie Compassionate Hearts gestig. Die oogmerk was toe om minstens een keer per week aan behoeftige mense kos te voorsien. Die organisasie is geaffilieer by die Food Relief Alliance of South Africa (Frasa) wat daarop fokus om honger mense te voed. Toe die regering streng Covid-19- regulasies afgekondig het, en mediese dienste by die plaaslike kliniek afgeskaal is, het hulle by die organisasie Gift of the Givers om hulp gaan aanklop en toe ’n samewerkingsooreenkoms bereik om mediese dienste aan inwoners te voorsien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article