Hulle sou oormôre (20 Desember) hul 18de huweliksherdenking vier, maar pleks van feesvier is sy besig om die liefde van haar lewe se begrafnis te reël.
Huldeblyke stroom steeds van oral in vir Francois Esterhuizen (55), die eienaar van Manic Cycles in Worcester, wat Saterdag (13 Desember) in ‘n ongeluk gesterf het toe ‘n motor hom van sy fiets gestamp en na bewering weggejaag het sonder om op die ongelukstoneel stil te hou.
Esterhuizen is op 1 Julie vanjaar as president van die Lionsklub in Worcester verkies. Sersant Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie in Worcester ondersoek ‘n saak van strafbare manslag ná ‘n noodlottige botsing tussen ‘n fietsryer en ‘n motorvoertuig wat Saterdagoggend omstreeks 07:00 op die R43, Villiersdorp-pad plaasgevind het. “Volgens berigte is die fietsryer deur ‘n wit voertuig getref, waarna die bestuurder van die toneel gevlug het. Die 55-jarige man is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word tans ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Twigg bevestig.
Met Standard Breederivier Gazette se besoek Maandag aan die Esterhuizens se woning in Haarlemstraat was Francois se weduwee, Natasha, weg om haar man se lyk te gaan uitken.
Sy skoonma, Hazel Geldenhuys (75), sê haar skoonseun is Saterdagoggend omstreeks sesuur van die huis af weg om te gaan fietsry.
Sy sê ‘n motoris het hom op die Villiersdorp-pad naby die Kwaggaskloofdam van agter van sy fiets af gestamp en weggery.
Standard Breederivier Gazette verneem ‘n minibus-taxi het kort hierna by die ongelukstoneel stilgehou, waarna een van die insittendes die polisie en ambulans na die toneel ontbied het.
Francois is op die toneel aan sy bese-rings dood.

Mercia Gouws, ‘n familievriend, vertel verder dat ‘n paramedikus op die ongelukstoneel ‘n fietsryer van Worcester – wat Francois goed ken – gebel en van die ongeluk verwittig het en gesê het dat die slagoffer geen vorm van identifikasie by hom het nie.
Hulle het die betrokke fietsryer gevra of hy die fiets wat in die ongeluk betrokke was kan kom identifiseer.
“Toe hy [die fietsryer] daar aankom, toe sê hy dit lyk soos Francois se fiets. Hy het toe Francois se selfoon gebel.
“Toe Francois se selfoon daar op die toneel lui, toe weet hulle dis hy.”
Volgens Gouws is die betrokke fietsryer ook ‘n klant van Manic Cycles.
Sy vertel dat Natasha by die Worcester-gholfklub was toe sy die tyding kry dat haar man in ‘n ongeluk was.
Geldenhuys sê: “Natasha is stukkend. Sedert Saterdag huil sy aanhoudend.”
Francois se skoonsuster, Tania Rust, sê ‘n verpleegster het hulle Saterdagoggend na sy (Francois se) pa, Jannie Esterhuizen, in die Hooggelegen-aftree-oord vergesel toe hulle hom die doodstyding gebring het. Jannie is reeds in sy laat tagtigs.
Volgens Geldenhuys moes Francois – op die dag van die ongeluk – later die dag mense gaan oplaai het, want hulle sou in Stellenbosch krieket gaan speel.
Sy vertel dat sy in Julie vanjaar spesiaal van Kleinmond gekom het toe haar skoonseun as president van die Lions-klub in Worcester verkies is.
Gouws sê op haar beurt: “In die kas lê ‘n klomp geskenke wat sy [Natasha] verlede week vir my gewys het wat sy vir Francois [vir hul huweliksherdenking] gekoop het.”
Volgens Rust het Francois altyd sy vrou op die dag van hul huweliksherdenking verras.
“Hy het altyd planne gehad wat hy nooit voor die tyd met Natasha gedeel het nie. Dit was altyd ‘n surprise.
“Wanneer dit hul huweliksherdenking was, het hy altyd uit sy pad gegaan.”
Volgens Francois se familie was hy onder meer betrokke by die Absa Cape Epic, die Tour de Worcester, Worcester Pioneer Rally, Scorpions Krieketklub in Stellenbosch asook fietsry op skoolvlak.
Die Lionsklub in Worcester sê die volgende oor Francois op sy Facebook-blad: “Ons klub se gebede gaan uit na die Esterhuizen-familie. Rus in vrede.”
Volgens Gavin Phillips, voormalige president van die Lionsklub in Worcester, was Francois iemand wat altyd gereed was met ‘n grap en hy kon ook lekker lag.
“Hy gaan beslis ‘n leemte laat by die klub en hy sal gemis word.”
Francois word ook oorleef deur sy twee stiefkinders Jarrett (27) en Juarnett (25) West.
Sy begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
•Enigiemand met inligting oor die insident kan Crime Stop by 08600 10111 kontak of die MySAPS-selfoontoepassing anoniem gebruik. – Enrico Claassen





