Twee huisrowe in een week in Worcester wek kommer nadat twee voorvalle by die polisie aangemeld is.

Volgens AO Vathiswa Jacobs was ’n vrou Dinsdagaand 12 April omstreeks 23:30 besig met haar wasgoed in haar huis in Kolgansstraat, Avianpark, terwyl haar man in die bad was. Terwyl sy besig was, het sy ’n geluid gehoor van iemand wat probeer om die hek, wat met ’n ketting en hangslot gesluit is, oop te maak.

“Die klaer het deur die venster van die slaapkamer gekyk en drie mans gesien wat oor die heining klim om die huis binne te kom. Een verdagte het die deur van die klaer se huis met geweld oopgeskop en so toegang verkry.”

Die verdagtes het geld geëis en die verdagte het die klaer met ’n mes gedreig, ’n geld en drie selfone gegryp en weggehardloop.

’n Klag van huisroof word ondersoek.

Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

In nog ’n voorval Sondagaand omstreeks 22:00 was ’n vrou besig om goed wat sy nie meer wou hê nie, uit haar huis in Frerestraat, Somersetpark, Worcester, te verwyder terwyl haar agterdeur oop was.

“Later het die klaagster die deure toegemaak op pad na die slaapkamer om te gaan en gesien die badkamerdeur staan meer toe as gewoonlik en haar hond was rusteloos. Die klaer het probeer om die deur te druk, maar dit kon nie beweeg nie en sy het die paniekknoppie gaan druk. ’n Onbekende man met ’n rooi kappie het haar gevolg en die klaagster met ’n skerp voorwerp in die rug, kop, bors, linkerskouer en voorkop gesteek. Die klaagster het gekruip om by die voordeur uit te kom en die verdagte het oor haar gespring en weggehardloop.”

’n Klag van huisroof word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article