’nNegejarige meisie is Saterdag in ’n vlammehel dood terwyl haar ma ernstige wonde opgedoen het.

Tesnay Frieslaar en haar ma, Jeanette (24), het Saterdagaand by haar ouma se huis in Droëheuwel, Robertson, oorgeslaap.

“Die voorste gedeelte van die huis is van baksteen gebou. Die agterste kamers was wendyhuise wat so omgeskep was. Tesnay en Jeanette het Saterdagaand op my bed, wat in die voorkamer was, gelê en TV kyk voordat die brand begin het,” verduidelik Anneline Mouries.

Haar buurvrou het haar voor middernag laat weet haar huis is aan die brand.

“Ek het eers later die boodskappe gekry, want my foon was af – die battery was pap. En ses minute ná twaalf het sy laat weet alles is afgebrand. Dit het so vinnig gebeur,” vertel Mouries, wat ten tyde van die brand by ’n vriendin in Silverstrand was.

Sy het haar weg na haar huis gebaan en is begroet deur ’n huis en haar besittings wat in puin gelê het.

“Toe ek daar kom, was die brandweer nog besig om alles onder beheer te bring.

“Nadat die vlamme geblus is, wou hulle my nie toelaat om in die huis te gaan nie. My dogter is reeds teen daai tyd hospitaal toe geneem. Ek is eers omstreeks 05:00 Sondagoggend in kennis gestel dat my kleindogter in die brand dood is. Toe maak dit sin hoekom hulle my nie in die huis wou toelaat nie, omdat haar liggaampie nog daar was.”

Volgens Mouries se twee seuns het die huis se dak op haar kleindogter geval.

“Dit lyk my Jeanette het Tesnay in die badkamer gaan toemaak, want daar was nog nie vlamme nie, maar toe val die dak op haar en sy is op die toneel dood,” verduidelik Mouries, met haar stem vol emosies.

Jeanette is tans in die Worcester-hospitaal en moet glo ’n operasie ondergaan.

“Haar brandwonde is baie diep. Die dokters wag eers totdat sy ’n bietjie aansterk voordat hulle met die operasie voortgaan. Ons het vandag probeer om met haar te praat, maar sy het ’n terugslag gehad en is in die waakeenheid by die Worcester-hospitaal.”

Talle medelye het op Facebook vir Tesnay ingestroom en volgens haar ouma was sy ’n tipiese klein meisietjie wat nooit nee gesê het as mense haar gevra het om gou winkel toe te gaan nie.

“Sy was altyd baie vriendelik. Almal in die buurt het van haar gehou en was baie lief vir haar.

“Sy was ook ’n baie slim kind. Dat so ’n pragtige meisie so wreed moes doodgaan, is baie hartseer.”

Dit is in hierdie stadium nog nie bekend wat die brand veroorsaak het nie. Mouries vermoed dit was ’n kortsluiting in die wendyhuis se kamers.

Die gemeenskapsleier in die buurt, Danny September, is tans besig om die gesin met skenkings te help.

. Kontak September by 060 433 3192 om die gesin in hul tyd van nood by te staan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article