Van links is dr. Amanda Swart, ‘n voormalige onderwyser by die Hugenote Hoërskool, Annie Olivier en die skoolhoof, Wikus Naudé. FOTO: Engela Duvenage

Annie Olivier, die bestuurder van NB Uitgewers, is deur haar alma mater, die Hugenote Hoërskool in Wellington, vir haar invloed in die sakewêreld en in Suid-Afrikaanse letterkunde vereer.

Dit is reeds sedert 1991 ‘n instelling om tydens die skool se Stigtingsdag ‘n oudleerder, wat ‘n besonderse indruk in sake, op die sportveld, in die letterkunde, die kunste of die akademie gemaak het, te vereer.

Olivier, ‘n voormalige joernalis met ‘n liefde vir nie-fiksie-tekste, het reeds diep spore in die uitgewersbedryf getrap, onder meer as redakteur by Tafelberg- uitgewers en bestuurder van Jonathan Ball Publishers. Sy is vanjaar deur Media24 aangestel om NB Uitgewers te lei, in wie se stal drukname soos Tafelberg en Human & Rousseau is.

Sy het in Wolseley grootgeword en in 1993 gematrikuleer. Op skool is sy onder meer aangewys as nasionale wenner van die ATKV-redenaarskompetisie.

Daarna het sy honneurs in filosofie en MPhil in joernalistiek (albei cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch behaal, asook verdere kursusse in die joernalistieke en uitgewersbedryf voltooi.

By die erkenningsbyeenkoms by die Hugenote Hoërskool het dr. Amanda Swart, een van Olivier se voormalige onderwysers, met ‘n oorsig oor haar loopbaan onder meer haar liefde vir tale uitgelig.

Op skool het Olivier Xhosa en Duits geneem, waarna sy ook naskoolse opleiding in Duits aan die Goethe-stigting in Duitsland ontvang het.

Op haar beurt het Olivier aan leerders vertel hoedat sy oor deursettingsvermoë, toewyding en waagmoed geleer het in die wiskundeklas van Estie du Plessis, deur haar deelname aan redenaars onder aanmoediging van Louise Grobler – en selfs te probeer hoogspring.

Sy het ook uitgelig hoedat sy in dr. Swart se Xhosa-klas geleer het om ‘n oop gemoed en hart teenoor ander mense en kulture te hê en krities te dink.

Olivier het die uitgewersbedryf as ‘n loopbaan beskryf waarin ‘n mens leer om kanse te waag, aangesien die besluit om ‘n boek te publiseer, elke keer ‘n onbekende waagstuk is.

Sy het die leerders uitgedaag om meer te lees, vrae te vra, nie tropdiere te wees nie en oop te wees vir mense en idees wat van hul eie verskil. Daarby moet hulle hulself ook nie blind staar teen uitdagings nie, maar eerder sulke situasies as geleenthede beskou waaruit hulle kan leer en groei.

“Ek sê altyd vir my kollegas hoe lief ek vir ‘n lekker ou ordentlike krisis is en dat die lewe werklik maar bra vervelig daarsonder sou wees.

“ ’n Probleem is net ‘n probleem totdat jy ‘n oplossing daarvoor kan kry. En vertrou my: daar’s altyd een – dis dalk net nie die oplossing wat jy aanvanklik in gedagte gehad het nie.” – Engela Duvenage

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article