Vir die sokkerklub View of Hope was Sondag 22 Mei se wedstryd teen Brave Defenders deurslaggewend, want enige van die drie klubs, Hope, Brave Defenders of Black Pool, kan aan die einde van die rondomtaliewedstryde eerste in groep B eindig.

Hierdie wedstryd is gespeel op De Doorns, met Defenders die groot gunstelinge, want hulle het Hope verlede seisoen ook in ’n soortgelyke wedstryd met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Albei spanne het mekaar gevoel-voel in die eerste paar minute, met aanvalle van albei kante. View of Hope het die gevaarlike duet, Jonathan Prins en Dimitri van Rooi, aan hul boorpunt geplaas, en Defenders het hul twee snellers losgelaat teen Hope. Dit was werklikwaar ’n riller aan albei kante, en al twee spanne se verdedigers het benoude oomblikke gehad.

Die vonk in die wedstryd het in die dertigste minuut gekom toe die Defenders hul verdediging in aanvallende spel omskep het en Hope se agterste hoek uit posisie betrap het. Hul sneller het ’n one on one met Caden Pass, wat Hope se doelhoek beman het, bewerkstellig. Hy het Caden met sy hope spoed geklop en die openingsdoel aangeteken (1-0). Hope, geruk deur die doel, het hierna met reëlmaat die Defenders-doelhok aangeval, maar alle pogings het misluk. Die rustydtelling was dan ook (1-0).

Met die aanbreek van die tweede helfte het Hope se afrigtingspan Martin Human en Hendrik Anthony ingebring, asook Hope se generaal in die middelveld, Kelvin Butland, in die plek van Howard Anthony.

Dié verandering het meer vloei vanuit die middelveld gebring en Hope het alles in die stryd gewerp om die gelykmaker aan te teken. Met 10 minute verstreke is Prins in die doelhoek neergevel en die jeugdige skeidsregter het die vinger na die strafmerk gewys. Remano van der Westhuizen het die doelwagter met ’n goed geplaaste skop geklop om die telling 1-1 te maak.

Honger vir nog ’n doel het albei kante meedoëloos aangeval, wat veroorsaak het dat Hope se verdedigers by tye lelik klei getrap het en die jong Caden meer as een keer vir Hope uit die moeilikheid moes haal.

Om meer stabiliteit agterlangs te kry, is Tyronne Lotterie van regtervleuel na agter geskuif en Allister Fransman het sy debuut in die groen-en-goud van Hope gemaak.

Die skuiwe het onmiddellik impak gehad, want Hope kon hierna sy snellers van alle kante speel. Fransman het ’n aanval saam met Prins aan die regterkant van stapel gestuur, vir Kelvin die bal in die 22 m-gebied gevoer en met die pale voor hom, het Kelvin seker gemaak en Hope se tweede doel aangeteken (1-2).

’n Blaps van Hope se verdedigers het hierna eers ’n strafskop net buite die doelhok veroorsaak, maar die poging is hoog oor die pale geskop.

Skaars vyf minute later het die skeidsregter weer ’n baie twyfelagtige strafdoel aan Defenders toegeken. Hierdie keer het die bal die regterpaal getref, terug binneveld toe gespat, waarop die skopper hierdie keer seker gemaak het en die bal in die doelhok gebêre het (2-2).

Met sowat tien minute speeltyd oor was die vraag wie die laaste poging gaan aanwend. Lotterie het ’n bal pragtig van agter na Van Rooi gestuur, wat die verdedigers van Defenders hakskene gewys en ’n kanonskoot van byna teen die kantlyn geloods het. Dit het die doelwagter geklop, waarop Prins net kon seker maak die bal is verby die doellyn (2-3). Met minute oor om te speel het Hope met alle mag hul voorsprong verdedig en die wedstryd geëindig met 2-3.

Die spanbestuur het Tyronne Lotterie as speler van die wedstryd aangewys. Hy het weer eens bewys hy is soos rooiwyn: hoe ouer, hoe beter.


V Met Black Pool wat in die wedstryd net ná hulle gelykop gespeel het teen Merwida Stars van Rawsonville is Hope nou met 6 punte voor op die punteleer. Pool moet nog twee wedstryde meer as Hope speel en is dus so te sê seker van die topposisie in groep B mits hulle Saterdag teen X1 Experience op Esselenpark wen. Dié span se doelgemiddelde is baie beter as die van Black Pool.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article