Die sokkerklub View of Hope het Saterdag (21 Oktober) sy MRL-aspirasies op ’n bevredigende noot afgeskop toe hy kragte teen die sokkerklub FC Malaga gemeet het.
Die wedstryd het 2-2 gelykop geëindig.
Wat hierdie uitslag welverdiend maak, is dat die genoemde klub verlede seisoen se groepwenner was en ook voorheen in die Vodacom-liga gespeel het.
View of Hope moes hierdie wedstryd met ’n heel nuwe span begin weens beserings of spelers wat moes werk. Vyf spelers het hul buiging by hierdie roemryke klub gemaak, maar omdat hulle nog moet gewoond raak aan Hope se manier van speel, het dit aan die begin voel-voel gegaan.
Hope se jong sensasie, Jueyren November, het die wedstryd met ’n goedberekende doel geopen nadat hy ’n aangee van Jonathan Prins goed beheer het (1-0). Net voor halftyd het die besoekers die gelykmaker aangeteken (1-1), waarna die spanne gaan afkoel het.
Die groot skare wat hierdie wedstryd bygewoon het, het net ná halftyd sokker van die boonste rakke gesien.
Malaga se ondervinding kon gesien word teenoor die onervarenheid van Hope. Malaga het Hope se verdediging onkant betrap en sy tweede doel aangeteken (1-2). Met Hope ’n bietjie onder druk, het die afrigtingspan die meer ervare Dillon Fortuin, Kafen Pass en Howard Anthony opgestuur, en onmiddellik het die spelers meer soos ’n eenheid gespeel. Hulle het die meer ervare Malaga in ’n hoek gedruk en uit hierdie aanvalle het Prins en Jueyren weer gekonnekteer. Waykie het sy tweede doel aangeteken, wat ook die gelykmaker was (2-2).
Laat in die wedstryd het Hope ’n gulde geleentheid gekry om die wedstryd te wen, maar Howard kon ongelukkig nie die geleentheid benut nie. Die wedstryd het dus 2-2 geëindig.
Jueyren is as speler van die wedstryd aangewys vir sy goed afgeronde vertoning.. Hope reis volgende Saterdag na Franschhoek om teen Franschhoek United te staan te kom.




