Ná twee agtereenvolgende teleurstellende naweke het die span van die View weer hul ondersteuners se glimlagte terug op die lippe gesit met ’n uithalervertoning teen Franschhoek United die afgelope Saterdag op die Esselenpark-sokkerveld.
Die View of Hope-sokkerspan het die besoekers 3-0 geklop.
United se kaptein het die loot gewen en besluit om in die baie warm toestande eers teen die ligte windjie te speel. Hope se aanvallers het die eerste helfte oorheers en die doelskieters het maklik agt kanse gekry om ’n doel aan te teken, wat hulle telkens verbeur het. Maar vyf minute voordat die rustyd-fluitjie sou blaas, word Tyrique Fourie voor die pale neergevel en die skeidsregter, Romark Ruiters, het ’n strafskop aan Hope toegeken. Ridiwaan van Rooi het ongelukkig die dwarslat getref, maar ’n minuut voor rustyd het Hope wel sy neus voor gekry toe Iwan Helm ’n aangee van kaptein Dimitri van Rooi met ’n boog skop wat die doelwagter van United net kon agterna kyk – 1-0 vir ’n welverdiende doel.
Ná rustyd met die wind van voor het Hope nou die sokker waarvoor hy in die dorp bekend is, gespeel. Die afrigter, Lionel Minnaar, het Fabian Esterhuizen en Demetrio Olyn asook Bradwin Abrahams opgestuur, en dié drietal het op die harde werk voortgebou. Sommer kort ná hul verskyning was dit eers Demetrio Olyn wat Iwan met ’n soortgelyke doel nagemaak het, wat die doelwagter van United laat wonder of dit in die WoeWoe spook.
Kort daarna was dit Fabian se beurt om ook ’n skitterende aangee van Anrich Didarne te beheer en in die doelhok te tik.
Spelers wat uitgestaan het, was Zaandro Vermeulen II toe hy op die veld was, asook Kelvin Butland en Ridiwaan van Rooi, wat weer gewys het hulle is besig om hul vorm te herwin. Die speler van die dag was ongetwyfeld Anrich Didarne, wat sy beste wedstryd in die groen-en-goud gespeel het. Hy is ook agterna welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.




