Foto: Ashraf Hendriks


Te midde van kouefronte wat die laaste paar weke oor Touwsrivier en die res van die Breederiviervallei skuif, kring die poel van honger, werklose mense op dié dorp en omstreke aan die vooraand van die winter reeds ál wyer uit.

In Touwsrivier, ongeveer ’n anderhalfuur van Kaapstad af, op die rand van die Boland en die Karoo, word oplossings gesoek om voedselsekerheid daar te verbeter.

Die meeste van dorp se 8 130 inwoners leef onder die bestaansminimum. Al hoe meer mense is afhanklik van staatstoelaes (veral kindertoelaes) en kosskenkings.

“Honger en hopeloosheid spoel al hoe meer oor ons dorp,” sê Rashaad Baker van Compassionate Hearts. By hierdie organisasie sonder winsbejag, wat ’n sopkombuis uit sy huiswinkel bedryf, word daagliks tot 1 000 mense gevoed.

Hier staan honger inwoners van die dorp – veral werklose mans – reeds van vroegdag af in die ry vir kos. Waar moontlik, neem mense ook kos huis toe. “Ons uitgangspunt is om te seker te maak niemand stap hier met leë hande weg nie,” sê Baker.

Compassionate Hearts is sedert die begin van die Covid-19-pandemie betrokke by koshulp en hulpverlening in die dorp. Die organisasie kry onder meer steun van ander organisasies soos Gift of the Givers. “Ons het aanvanklik kos aan net ’n paar kinders verskaf. Die grootmense het gevolg. Sedertdien het die rye nog nooit opgedroog nie.”

Probleme met armoede en mense wat honger ly of ongesonde kos eet, het sedert die begin van die pandemie vererger, sê hy. Terselfdertyd neem leefstylverwante siektes in die dorp toe, waaronder suikersiekte, hoë bloeddruk en vetsug.

“Ons mense kry swaar en ly honger,” sê Baker.

Hy stel dit onomwonde: “Die dorp beleef ’n krisis.”

Kinders aan die ontvangkant

Touwsrivier ondervind volgens navorsing van die ergste vlakke van groeibelemmering in kinders jonger as vyf jaar – die ergste in die land.

Om honger te wees, is iets waaroor mense nie aldag praat nie, maar gewis iets wat meer aandag moet geniet, glo Johanna Solomon, hoof van die voorskoolse Emmanual Educare-sentrum.

“Die dorp is in ’n diep sloot,” beken sy. “Mense verval in skuld by moneylenders en food brokers, en party ruil kos vir drank. Dis die kinders wat uiteindelik die meeste hieronder ly.”

Solomons en haar span onderrig 60 voorskoolse kinders by hierdie sentrum. Hulle ontvang ’n staatsubsidie vir net 32 van die leerders. Sy betaal dikwels vir die sentrum se kosverwante uitgawes uit haar eie sak.

Kinders wat ondervoed is of ongesonde kos kry, groei volgens haar stadiger en raak maklik agter in die klas. Talle kinders in haar sorg ly aan fetale-alkohol-sindroom, ondervind ernstige leerprobleme en leer stadiger om te praat.

Feitesending onderweg

Sowat 60 besluitnemers, akademici, regeringslui asook verteenwoordigers van organisasies wat by voedselsekerheid betrokke is, het onlangs ’n feitesending (learning journey) na dié dorp onderneem. 

Hulle het onder meer sopkombuise, ’n laerskool, voorskoolse sentrums, landbouprodusente en ’n nabygeleë hidroponiese aanleg besoek.

Die program van twee dae is gelei deur die Wes-Kaapse Ekonomiese ontwikkelingsvennootskap (EDP), in samewerking met die sentrum vir uitnemendheid in kossekerheid en die Southern Africa Food Lab.

As deel van ’n ekonomiese herstelplan om die gevolge van die pandemie te takel, het die Wes-Kaapse regering die “Nourish to Flourish”-strategie van stapel gestuur. Met hierdie strategie word gefokus om voedselhulp te verleen om mense se lewensgehalte en toegang tot voedsame kos te verbeter. Die onlangse feitesending sluit by hierdie strategie aan.

Risiko’s onder die soeklig

Touwsrivier is ’n dorp wat verskeie maatskaplike, ekonomiese en klimaatsverwante uitdagings het en risiko’s loop.

Volgens prof. Scott Drimie, direkteur van die Southern Africa Food Lab, het die pandemie die omvang van probleme met voedselsekerheid vererger asook onderliggende strukturele probleme in die kosstelsel ontbloot. Die term “voedselsekerheid” verwys na mense se toegang tot genoeg veilige en voedsame kos om ’n gesonde en aktiewe lewe te lei.

Touwsrivier was voorheen ’n spoorwegdorp wat indertyd ekonomies gefloreer het. Sedert Spoornet aan die gebied onttrek het, ondervind die dorp talle ekonomiese en verwante uitdagings.

Beter data vir beter besluite

Dit is die vyfde sodanige feitesending sedert 2021 in die Worcester-omgewing. Vorige besoeke, waaronder in Zwelethemba daar, het onder meer gefokus op die rol van voorskoolse sentrums en straatverkopers om voedselsekerheid te bewerkstellig.

Prof. Julian May, direkteur van die sentrum vir uitnemendheid in kossekerheid, sê sy eerste indrukke is dat daar volop uitdagings is wat holisties en uit verskeie oorde aandag moet kry.

“Ons volg ’n plekspesifieke benadering deur op ’n bepaalde gemeenskap te fokus,” verduidelik hy. “Só verdiep ons begrip oor faktore wat voedselsekerheid beïnvloed.”

Planne is onderweg vir ’n soortgelyke besoek aan De Doorns.

Hierdie soort feitesending verskil van ’n studietoer. “Dit stel rolspelers in staat om self kennis in te win en uit te ruil en sáám werkbare oplossings te vind wat toepaslik is vir die dorp en sy mense,” sê hy.

Dit behels diepte-onderhoude, fokusgroepbesprekings, waarnemings wat opgeteken word en werksessies en opvolggesprekke met regeringslui op al drie regeringsvlakke.

“Ons fokus onder meer daarop hoe kosstelsels, klimaatstelsels en grondgebruik by mekaar aansluit en hoe besluite oor waardekettings en op regeringsvlak mense se besluite oor en hul inname van voedsame kos beïnvloed,” sê May.

Die feitesending plaas ook faktore soos dienslewering en infrastruktuur en hoe dit voedselsekerheid beïnvloed onder die soeklig.

Talle inwoners sê Touwsrivier is die “weeskind-wyk” in die groter munisipale gebied wanneer hulpbronne toegewys en dienste gelewer word.

Diegene wat ’n doktor benodig of vir ’n ID-kaart moet aansoek doen, moet ’n taxi na Worcester neem as hulle nie self ’n ryding het nie. Só ’n rit kos R100, wat mense se besteebare inkomste beïnvloed. Die dorp het ook nie ’n bank nie, en as kragonderbrekings voorkom, kan die departement van binnelandse sake nie dienste lewer nie.

Die dorp, soos ander dorpe in die Breedevallei-munisipaliteit, word uit Worcester bestuur. Talle inwoners sê egter hulle het weinig seggingskap in munisipale prosesse – Touwsrivier is maar een wyk in die hele munisipale struktuur.

Horison van hoop

Soos May glo Drimie dat ander dorpe met soortgelyke uitdagings kan baat by die lesse wat hier geleer word.

Op sy beurt, sê Neville Fourie, die munisipale areabestuurder, hoop hy die feitesending sal help om tasbare oplossings te lewer. “Owerhede, die sakesektor en die plaaslike gemeenskap moet saamwerk om seker te maak ons mense het toegang tot voldoende, voedsame kos en ander hulpbronne. Ek hoop hierdie proses kan ’n verskil help maak.”

Sedert die onlangse feitesending het distriksowerhede gemoeid met landbou reeds weer besoek by Compassionate Hearts afgelê. Rolspelers het onderneem om saam te werk om te verseker dat groentetuine in die dorp floreer om inwoners se toegang tot vars produkte te verbeter. Lede van die “Nourish to Flourish”-werkgroep het voorts onderneem om nouer saam te werk met hul eweknieë in die distriksmunisipaliteit en op plaaslike regeringsvlak om projekte beter met mekaar te belyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article