Vir Boy Witbooi het Woensdag 26 Oktober soos ’n gewone werksdag begin, maar skuins na middagete het sy lewe onherroeplik verander toe hy op ’n onbekende man se lyk in ’n plaasdam afgekom het.
Witbooi wat al vir bykans sewe jaar op ’n druiweplaas teen die N1 buite Worcester werksaam is, het soos gewoonlik, na die dam se watervlakke gaan kyk as deel van sy daaglikse inspeksies. Hy en ’n medewerker het opgelet dat ’n hond het op in die hoek van die dam gesit, en hulle het vermoed dat iets nie pluis was nie.
“Dit het gelyk of die hond op iets sit. Ek was ook bang dat die arme hond dalk in gevaar was en ek het gaan ondersoek instel. As jy in daardie dam val is jou uitkomkans maar min, want die randte is glad en daar is geen vashouplek nie. Toe ek nader beweeg toe lyk dit of die hond besig was om aan ’n pop te kou. Ek het nader getree en met ’n skok besef dit is nie ’n pop nie. Dit is ’n mens.”
Witbooi se kollega het groot geskrik. Hy het dadelik omgedraai en kon nie die grusame toneel aanskou nie.
“Ek sal nooit die prentjie uit my kop uit kan kry nie. Die man se gesig was gedeeltelik opgevreet deur die hond. Dit was stukke vleis en stukke vel wat net gehang het. Ek het dadelik my bestuurder gebel en ingelig dat hier groot fout is,” verduidelik Witbooi verder.
Sy bestuurder het na die toneel gehaas en die polisie dadelik in kennis gestel. Witbooi voeg by dat die polisie binne minute op die plaas was en die duikspan ook nie te lank daarna nie.
“Ek het die hond probeer weghou, want dit was onmenslik om toe te laat dat die hond verder kou aan die lyk. Soveel goed het deur my kop gegaan op daardie stadium, maar die hartseerste van alles was dat iemand so moes sterf en sy liggaam so verniel moes word. Niemand wil hulle laaste oomblikke so spandeer nie.”
Hy verduidelik dat die polisie dadelik die toneel by die dam sowat drie kilometer buite Worcester in die rigting van De Doorns afgesper het en die duikspan die liggaam toe uit die water verwyder het. Witbooi het vertel dat man se donkerblou tekkies nog eenkant gedryf het.
Die plaaslike polisie het die voorval aan Standard bevestig en gesê dat die identiteit van die slagoffer nog nie bekend is nie en die omstandighede om sy dood word ondersoek.
Witbooi sê dat die slagoffer erg ontbind was en hieroor is hy grotendeels onherkenbaar. Hy kan wel bevestig dat hy ’n middeljarige swartman is. Hy het geen identiteitsdokument of persoonlike inligting aan hom gehad nie.
“Iewers is daar ’n familie daarbuite wat op soek is na hulle pa of man of broer. Hierdie stukkie pad is gevaarlik met baie rondlopers en kwaaddoeners hier buite. Ons is dankbaar dat ons op die plaas bly en dit veilig is, maar wat op die N1 in die nag aangaan is soms ’n raaisel. Daar is so baie moontlikhede. Moord kom altyd eerste in mens se gedagte, maar die polisie moet maar hulle werk uitvoer,” beaam Witbooi.




